As deel van Nasionale Kinderbeskermingsweek het AfrifForum se teenboelieveldtogspan Laerskool Muldersdrif onlangs besoek.
Hulle het inligtingsessies en bewusmaking oor afknouery by die skool gaan aanbied.
“Dit is vir AfriForum belangrik om saam met leerders, onderwysers en ouers te werk om ‘n verskil te maak en afknouery in skole hok te slaan. Veilige skole verseker ook veilige gemeenskappe – nie net nou nie, maar ook in die toekoms.
Elke leerder wat die teenboeliepraatjie bywoon, word toegerus met die nodige kennis en vaardighede om as leier in situasies op te tree waar afknouery plaasvind, met ander woorde om boeliebestand te wees.
“Kinders word ook geleer om te kan onderskei tussen afknouery en konflik,” het AfriForum se bestuurder vir jeugleierskap, Leandie Bräsler gesê.
Laerskool Muldersdrif se hoof, Herman Byleveld het bygevoeg dat hulle streef na eerlikheid, selfbeheersing, deursettingsvermoë, pligsgetrouheid, verantwoordelikheid en respek teenoor ander.
“Daarom is hierdie projek vir ons van soveel waarde.”
‘n Onderwyser by dié skool, Johané van Niekerk, het gesê dat Mullies poog om leerders bewus te maak van wat afknouery werklik beteken, en hulle moedig hul leerders aan om nie daaroor stil te bly nie.
Leerders het ‘n wanindruk van die betekenis daarvan. Kinders word boonop deesdae weens sosiale media so maklik slagoffers van afknouery. Daarom ondersteun ons AfriForum se teenboelieveldtog en waardeer hul bereidwilligheid om saam met ons teen hierdie onaanvaarbare gedrag te veg,” het sy afgesluit.
