NewsSchools

Krugersdorp in Norie-kuns uitgebeeld

Noordskool het onlangs vir hulle leerders die geleentheid gegee om van hul kunswerke in volgende jaar se skool kalender te laat opneem.

Vroeg in Augustus het Laerskool Krugersdorp-Noord ‘n interessante inisiatief aangekondig – 13 leerders se oorspronklike kunswerke gaan in die skool se 2023-kalender opgeneem word.

Leerders in alle grade is genooi om hul kunsstukke met die tema Krugersdorp en Sy Mense in te dien vir beoordeling gedurende die Noordskool-kunswedstryd. Elke stuk moes op minstens ‘n A3-grootte papier of -skilderdoek geskets of geverf word.

Chanel Harmse en haar Paardekraal Monument-skildery. Foto: Jaco Human.

Twee algehele wenners is uit die top 13 jong kunstenaars aangewys. Wian Pretorius in Graad 1 was die juniorwenner en Isabella van der Walt in Graad 7 was die seniorwenner.

Isabella het verduidelik dat sy dit geniet om te skilder en te teken wat sy voel, “Ek hou van realistiese goed teken. Wanneer ek hartseer is teken ek goed soos trane en oë. Toe ek baie klein was het ek al geteken, maar dit was nie baie mooi nie. In Graad 3 het ek kunsklas toe gegaan en juffrou het vir my al die verskillende potlode en goed gewys, en ek was soos ‘wow!’”

Vir Isabella is haar eerste grafietkunsstuk van ‘n gesig haar heel gunsteling stuk, maar vir haar Noordskool-kalenderinskrywing het sy ‘n collage gedoen wat die geskiedenis van Suid Afrika en Krugersdorp uitbeeld, insluitend die dorp se stadsaal, die Paardekraal Monument, Key West-winkelsentrum, en persone uit verskeie agtergronde.

Isabella van der Walt se skets van Krugersdorp het ‘n eerste plek behaal in die seniorafdeling. Foto: Jaco Human.

Wian was effens skaam om te gesels oor sy wenskildery maar het gesê dat hy begin skilder het in sy kunsklas en ook gereeld by die huis teken. Sy kleurvolle kunswerk beeld ‘n vis uit wat onder die water op ‘n stoel sit en self ‘n kunswerk skilder, met die woorde “Krugersdorp, dis my dorp! Dis hier waar ek lekker saam met my familie bly. In my dorp is ‘n goeie skool. Damskool, dis my skool! Ons werk, en wen, en help mekaar deur dik en dun. Hier bly ook tweebeen- en vierbeenspesies. Net hier in my dorp, Krugersdorp.”

Chanel Harmse van Graad 6 het ook ‘n indrukwekkende kleurvolle stuk van die Paardekraal Monument met al sy dele ingedien. Sy het verduidelik dat skilder vir haar soos tweede natuur is, en dat sy baie tyd aan teken en skilder in haar vryetyd na skool bestee. “Vir kompetisies doen ek dit op ‘n doek; of soms doen ek dit op ‘n doek en hang dit teen my muur. Anders teken ek net op papier. My gunsteling ooit was ‘n olifant wat saam met ‘n klein olifant onder ‘n boom water drink.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Krugersdorp News in Google News and Top Stories.

Back to top button