Laerskool Kenmare is gedurig op die uitkyk vir nuwe geleenthede om leerders se ondervinding by die skool onvergeetbaar te maak.
Vir talle skole in lande soos die VSA en Engeland is die konsep van ‘n leerderkafeteria niks nuut nie en daar word selfs van skole verwag om dit beskikbaar te stel. Dit is wel ‘n ongewone konsep in Suid-Afrika.

Kenmare het besluit dat dit hoog tyd was om te verander en na maande se beplanning en konstruksie kon hulle hul Die Aalwyn-kafeteria se deure open. Daar sal leerders deur die dag ordentlik voorbereide etes kan koop en dit in die oop sitarea saam met maats kan geniet. Ouers sal ook daar kan koffie drink terwyl hulle vir hul kinders na skool wag.

Daar is reeds in die Julie-vakansie begin werk aan die nuwe kafeteria op die plek waar die vorige snoepie en twee klaskamers was. Die snoepie op die skool se B-veld bly daar en sal pouses oop wees vir leerders wat daar iets wil eet of drink.

Kenmare het die infrastruktuur vir die kafeteria geskep en dit daarna oorhandig aan die Kenmare Marlothii NPO wat sal verseker dat dit deurgaans suksesvol bestuur word.
Gedurende die opening op Vrydag, 3 September het die skool ook ‘n nuwe vellies-skoenreeks in samewerking met Grondpad Vellies bekend gestel. Die skoolembleem verskyn op die skoene en sal vir leerders en volwassenes beskikbaar wees. Die vellies sal van volgende jaar af Laerskool Kenmare se amptelike skoolskoene wees.
