Talle leerders van Hoërskool Bastion het onlangs hul harte oopgemaak ten bate van honderde vierpotige vriende in nood.
As deel van hul mees onlangse gemeenskapsprojek is sakke en sakke vol hondekos, koekies, speelgoed, komberse en skoonmaakmiddels op Vrydag, 10 September aan Fora oorhandig. Volgens adjunkhoof, Lynette Jonker het die skool se bestuur met die inisiatief vorendag gekom.
“Ons vorige projek was ten bate van ons eie leerders en hul families wat swaarkry as gevolg van Covid-19. Ons het dit daarom goedgedink om dié keer ‘n ander organisasie in nood te ondersteun. Omdat die kinders baie lief is vir diere en graag by hulle betrokke wil raak, het ons vir Fora as begunstigde geïdentifiseer,” het sy vertel.
Leerders kon op Vrydag, 3 September in gewone drag skool toe te gaan mits hulle ‘n donasie vir Fora saambring.
Danksy die gretige Bastionners is Linda Scrace van Fora dié dag verras met ‘n aansienlike donasie.

“Elke leerder was opgewonde om iets te skenk, al was dit net ‘n sakkie koekies, en so deel te wees van die projek. In slegs ‘n week het hulle dit reggekry om genoeg produkte bymekaar te maak om ‘n hele paar woefies baie gelukkig te maak. Ons is baie bevoorreg om terug te kan gee aan die gemeenskap,” het Lynette vertel.
Linda het haar dankbaarheid oor die skenking uitgespreek en gesê dat hulle nie sonder die gemeenskap se ondersteuning kan klaarkom nie.

“Hiermee wil ons graag die leerders uitnooi om by die skuilinghonde betrokke te raak. Die woefies benodig elke bietjie fisiese stimulasie en liefde wat hulle kan kry. Indien leerders ouer as 15 is, kan hul met liefde vir ons kom kuier en help. Leerders onder 15 sal ons egter net onder die toesig van ‘n voog kan besoek. Hul gemeenskapsdiens sal vir die honde die wêreld beteken,” het Linda ten slotte vertel.
Vir meer inligting, skakel gerus vir Fora by 082 336 5568.
