Vir baie is Erfenisdag ‘n dag om saam met die familie te spandeer, ‘n vleisie op die vuur te gooi en terug te dink aan waar elkeen van ons vandaan kom. Dit is ‘n dag om elke kultuur se uniekheid te vier en, indien jy deel in die gees van die geleentheid, om volgens jou kultuur aan te trek.

Laerskool Ebenhaeser het die afgelope week baie hard gewerk om al hul assesserings binne die klas te voltooi sodat hulle op Donderdag, 23 September die dag buite op die terrein kon piekniek hou.
Die grade kon volgens ‘n bepaalde kultuurtema aantrek, soos die Graad 2’s wat uitgestaan het in hul Bokke-rugbydrag.

Die ouers het regtig baie ondersteuning gebied,” het waarnemende hoof Moira Steenkamp vertel. “Dit maak nie saak of hulle geld het of nie, hulle doen altyd so baie.”

Moira het genoem dat hulle as skool al hoe meer fokus op tradisie en kultuur. “Ons leer hulle dat jy moet trots wees op wie jy is. Hulle het glad nie probleme met wie hulle is nie.”
Die senior leerlinge het die gesellige dag geniet, en het tussen vriendegroepe beweeg om te gesels en foto’s te neem. Die kleintjies was baie meer gefokus op die piekniek, en kon die oggend nie wag om buite te kom en hul komberse op die gras oop te sprei nie.

