NewsSchools

Hoërskool Noordheuwel se 2022-leiers vertel van hul planne

Hoërskool Noordheuwel se hoof- en onderleiers vir 2022 het vir die News vertel van hul planne en waarna hulle die meeste uitsien.

Hoërskool Noordheuwel beplan om 2022 met ‘n ywerige groep jong leiers af te skop.

Nadat die nuwe verteenwoordigende leierraad onlangs aangewys is, het die hoof- en onderhoofleiers met die News gesels oor hul planne en drome vir hul matriekjaar.

Die nuwe hoofdogter, Kijanke Jansen van Vuuren het gesê, “Ek wou ‘n leier wees omdat ek ‘n verskil wou maak in die mense rondom my se lewens. Ek wil volgende jaar die stem en voorbeeld wees vir die leiers rondom my en ek sal graag ‘n meer omgee-omgewing in die skool wil skep. Ek sien die meeste uit na al die sportgeleenthede van volgende jaar, en om die Graad 8’s deel te maak van die skool na ons hulle georiënteer het.”

Norie 2022 dogterleiers Mikayla Basson, Kijanke Jansen van Vuuren en Meagan Bezuidenhout. Foto: Jaco Human.

Hoofseun Divan Spangenberg het gesê, “Ek hou daarvan om voor te loop en die mense om my te lei na sukses. Wat ek volgende jaar gaan doen as ‘n leier is om die gees weer terug te bring na Noordheuwel toe. Ek sien uit na al die lekker tye wat ons as matrieks in 2022 gaan hê, soos om die geesvang op die veld weer terug te bring en om die Graad 8’s deel te maak van Noordheuwel.”

Onderhoofdogter Mikayla Basson het so van haar planne vertel. “Ek wil ‘n voorbeeld wees vir ander en die leerders wys hoekom Noordheuwel lekker is. Ek wil ook ‘n verskil maak en wil ‘n positiewe invloed op ander uitoefen. Ek wil hê hulle moet almal positief wees oor die dinge wat hulle gaan doen en ek wil ook graag die gees terugbring in die skool. Ek sien die meeste daarna uit om as deel van ‘n groot groep te werk en ook die Graad 8’s te laat voel dat hulle by die skool inpas.”

Norie 2022-onderhoofdogter Mienke Rossouw. Foto ingestuur.

Onderhoofseun Arné Roux het gesê, “Die rede hoekom ek ‘n leier wou word is omdat ek ‘n verskil wil maak, wil hê die mense om my moet glimlag en om ‘n bietjie gees te bou in die skool. Waarna ek volgende jaar uitsien is om die Graad 8’s te oriënteer, dalk ‘n paar veranderinge in die skool te maak en net weer die gees terug te bring. As gevolg van Covid-19 en so aan kon ons nie geesvang of interhoër hê nie. Die Graad 8’s kon nie by sportbyeenkomste sit en geesvang terwyl die eerstespanne speel nie. Al daardie goed wil ons terugbring, maar binne Covid-19 se maatreëls. Ons het selfs nie meer saalopeninge of vierkant waar ons afkondigings kan doen nie en ons kan nie naby mekaar sit nie. Ek sien definitief uit na die matriekafskeid, om ‘n nuwe blaadjie om te blaai en om my nuwe lewe buite die skool te begin.”

Onderhoofdogter Meagan Bezuidenhout het vertel, “Ek wou graag ‘n leier word om ‘n verskil in die skool en in die mense rondom my se lewens te maak. Ek wil graag ‘n goeie voorbeeld stel vir kinders rondom my, en ek wil iemand wees na wie kinders toe kan kom as hulle hulp of raad nodig het. Ek sien uit om saam met die res van die Norieraad-groep te werk en sterker as ‘n groep saam te groei.”

Onderhoofseun Janco de Beer het gesê, “Ek wil graag ‘n leier wees om ‘n verskil in jongmense se lewens te maak en om te help waar ek kan. Ek sien die meeste uit na al die projekte wat ons volgende jaar saam as ‘n groep vir die Graad 8’s en die skool kan doen. Ek sien ook baie uit na die matriekafskeid en om my hoërskoolloopbaan op ‘n hoë noot af te sluit.”

Norie 2022-seunsleiers Janco de Beer, Divan Spangenberg, Arné Roux en Jaden Smith. Foto: Jaco Human.

Onderhoofdogter Mienke Rossouw het verduidelik, “Ek wil graag die stem wees vir die kinders wat voel dat hulle nie ‘n stem het nie. My planne vir die jaar is beslis om die hele 2022-matriekgroep te onthou en om vir hulle die jaar vol vreugde en geluk te maak. Ek kan nie wag vir die geesdae en om die nuwe normaal so gou moontlik nader te bring aan die ou normaal nie.”

Onderhoofseun Jaden Smith het verduidelik, “Ek wou ‘n leier wees omdat ek wil hê mense moet my kan vertrou en met enigiets na my toe kom. Wat ek volgende jaar as ‘n leier gaan doen is om altyd daar te wees vir mense wat moeilike tye beleef. Ek sien die meeste daarna uit om ‘n nuwe trots in die skool te skep en as ‘n leier diep spore in die skool en in mense se harte te laat.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Krugersdorp News in Google News and Top Stories.

Back to top button