NewsSchools

Laerskool Kenmare en Hoërskool Noordheuwel se spog revuevertoning

Laerskool Kenmare en Hoërskool Noordheuwel-leerders wat deel van die Frog Crew vorm het onlangs 'n gehoor by die Key West Amfiteater vermaak.

Revuetyd is ‘n opwindende deel van die jaar vir talle leerders wat dit geniet om hul dans- en toneelspeltalente voor ‘n gehoor ten toon te stel. Die huidige pandemie het egter sulke opvoering vir ‘n ruk stopgesit.

Die Frog Crew-revuegroep het wel elke geleentheid aangegryp om oor die laaste twee jaar aanlyn en in klein groepe te oefen. Na al hul harde werk kon hulle uiteindelik op Sondag, 19 September ‘n gehoor vermaak met hul danspassies by die Key West Amfiteater.

Reinart Grobler en Jana Rust sit alles in op die verhoog. Foto: Jaco Human.

Leerders van Laerskool Kenmare en Hoërskool Noordheuwel het vir hul ouers en vriende ‘n klompie dansroetines op die maat van musiek opgevoer.

Die juniorgroep, genaamd die Junior Frogs of Baba Paddatjies en bestaan uit Graad RR- tot Graad 3-leerders. Die Senior Frogs is die Graad 4 tot 7-groepe, en die Senior of Norie Frogs bestaan uit die oorblywende Graad 8 tot 11-leerders.

Teane van den Berg van Noordheuwel vermaak die gehoor. Foto: Jaco Human.

Elke groep het hul oomblik op die verhoog goed benut en fyn gechoreografeer danspassies uitgevoer. Die dansgroepe het ook gereeld oorvleuel en die jong en ouer klomp kon saam ‘n dans of twee uitvoer.

Oorspronklik was net Kenmare betrokke by die revuegroep wat Ilze Swiegelaar begin het, maar omdat soveel Kennies na hul Graad 7-jaar Noordheuwel toe is het die Frog Crew ‘n groot behoefte in die hoërskool geïdentifiseer.

Graad 5 Kenniesleerder Izabella Boonzaaier voer haar revuedanspassies vir die gehoor uit. Foto: Jaco Human.

Die groep wil wel uitbrei en nooi leerdes van alle skole in die area om by hulle aan te sluit terwyl hulle voorberei vir hul 2022-produksies.

Frog Crew neem jaarliks deel aan verskeie kunswedstryde soos Raca, Eisteddfod, Youth Arts, Tshwane Kunstefees, 8 Beats en die South African Championship of Performing Art. Die groep gaan op 16 Oktober aan die 8 Beats-kompetisies by Silverstar deelneem.

Mekaylin Coetzee voer haar danspassies uit vir die Junior Frogs groep. Foto: Jaco Human.

“Voorheen het ons by die skole geoefen, maar as gevolg van Covid-19 moes ons ‘n ander heenkome soek. Ons het in klein groepe van 10 geoefen, en later deur video’s en Zoom. Verlede jaar het die Boomhuisie en later Rocky Valley-kampterrein hul persele aan ons beskikbaar gestel. Ons kon die afgelope twee maande vir die eerste keer aan ‘n produksie werk,” het Monique Smit, afrigter en organiseerder vertel.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Krugersdorp News in Google News and Top Stories.

Back to top button