
Hoërskool Noordheuwel glo in teruggee. Dié woorde het oor die jare selfs ‘n tipe nie-amptelike spreuk onder Nories geword.
Leerders samel in klasverband gereeld fondse en items in. Hulle doen dit dikwels eenmaal ‘n kwartaal, en gebruik dit dan om uit te reik en persone en organisasies in nood te help. Daar het veral gedurende die Covid-19 tydperk ‘n dringende tekort in die gemeenskap begin ontstaan en Noordheuwel het besluit om verskillende groepe te ondersteun.

Elke graad, buiten die matriekgroep wat tans in die eksamentydperk is, het op ‘n bepaalde liefdadigheidsorganisasie gefokus en moes daarvolgens ‘n noodsaaklike item skool toe bring op Donderdag-oggend, 30 September. Dit is soortgelyk aan sommige van die skool se vorige projekte waar leerders R10 skool toe kon bring vir liefdadigheid en dié dag gewone klere skool toe aantrek, veral omdat die derde kwartaal se vakansie om die draai was.
Die leerders het alle verwagtings oortref en gou die stoorplek in die kantoor volgepak.

Die Graad 8’s het hoofsaaklik higiëne-items ingesamel wat later aan SAVF Môreglans tehuis vir bejaardes en Panorama-aftreeoord oorhandig sal word. Die Graad 9’s het hul fokus op diereverenigings geplaas en kos, speelgoed asook komberse ingesamel. Die Graad 10’s het niebederfbare voedsel ingesamel om gesinne in nood binne die skool self te help, terwyl die Graad 11-groep besluit het om die Curamus Skool vir Outisme te ondersteun.
Die junior- en seniorklas wat die meeste ingesamel het, gaan beloon word met ‘n pizza-dag saam met iets lekker van Bru Coffee.
