Monnas se mooiste meisies gekroon vir 2021
Hoërskool Monument het onlangs hul Mejuffrou Monnas-kompetisie gehou en die meisies is nie net pragtig nie, maar het ook harte van goud.
Tydens ‘n praggeleentheid het Hoërskool Monument onlangs hul twee nuwe Mejuffroue Monnas aangewys, en hul harte is net so mooi soos hulle.
Die 18-jarige Denisha Schlebusch is die Mejuffrou Monnas Senior, terwyl die 15-jarige Tiané Taljaard die titel van Mejuffrou Monnas Junior op Donderdag, 14 Oktober gekry het.

Denisha het vertel dat sy vele male tevore aan die kompetisie deelgeneem het. Sy het mense dikwels hoor sê dat mens soveel mense by so ‘n kompetisie leer ken, hoewel dit nooit haar ervaring was nie – tot vanjaar toe sy self baie nuwe vriende gemaak het.
Sy is al van Graad 8 af betrokke by verskillende liefdadigheidsaksies – iets wat haar na aan die hart lê. Een van die plekke waar sy help is die Tower of Life-manskuiling en sy het verduidelik dat sy soms help om kos te bedien, donasies soontoe te neem en net die inwoners leer ken en ondersteun. Sy het vertel dat sy geleer het dat jou lewe en wat daar aangaan so vinnig van jou af weggevat kan word.
Vir Denisha is die Mejuffrou Monnas-titel iets wat sy al van Graad 8 af wou bereik en die feit dat sy dit dié jaar gekry het, sluit haar matriekjaar vir haar mooi af.
Sy het ook ‘n boodskap nie net vir toekomstige deelnemers nie maar vir elke jong meisie.
“Vir elke jong meisie, jy is mooi genoeg en gemaak na God se beeld. Elkeen van julle het ‘n doel vir jul lewens,” het sy gesê, en bygevoeg dat meisies wat wil deelneem dit net moet doen, want wie nie waag nie, wen nie.
Hierdie jaar was die eerste keer dat Tiané aan die kompetisie deelgeneem het, en die ervaring het haar nader aan haar bestaande vriende gebring en nuwes laat maak.

Sy het vertel dat sy nie verwag het om te wen nie en dat sy maar net vir die pret ingeskryf het en om herinneringe te maak. Dit lê swaar op haar hart dat die ander meisies nie gekies is nie, en sy wil nie hê hulle moet voel dat hulle nie die titel verdien nie.
“Dit is net iemand se opinie en ek is dankbaar dat ek gewen het, maar dit beteken nie die ander meisies is nie goed genoeg nie,” het sy gesê en ander aangeraai om volgende jaar weer te probeer.
Die Mejuffrou Monnas Senior Eerste Prinses is Chané de Jager, en die Tweede Prinses is Clerise Begg. Clerise is ook aangewys as Mejuffrou Persoonlikheid Senior, en Denisha is ook as Mejuffrou Fotogenies gekies. Mejuffrou Debutant is Alexia Smyth, en Miss Charity is Dominique dos Ramos.
Mejuffrou Monnas Junior se Eerste Prinses is Karli Liebenberg, en die Tweede Prinses is Abigail van der Sandt. Abigail is ook as Mejuffrou Fotogenies Junior aangewys. Mejuffrou Persoonlikheid Junior is Hannah van Heerden.




