Alles pienk by Mullies ter ondersteuning van kankerlyers
Leerders van Laerskool Muldersdrift het onlangs hul ondersteuning vir kankerlyers met 'n bietjie pienk gewys.
Met Covid-19 wat die media-opskrifte oorheers, vergeet mens soms dat daar so baie ander mense is wat ook ernstige probleme ondervind.
Oktober is Borskankerbewustheidsmaand wat die klem plaas op ‘n landswye poging deur die privaat en openbare gesondheidstelsel om bewustheid te skep oor hierdie aftakelende siekte wat geen ras of klas ontsien nie.

Volgens die Kankervereniging van Suid-Afrika (CANSA) sal een uit elke 28 vroue in Suid-Afrika in die een of ander stadium van hul lewens met borskanker gediagnoseer word.
Die leerders van Laerskool Muldersdrif het juis op Vrydag, 22 Oktober besluit om hul ondersteuning vir kankerlyers te wys deur elkeen iets pienk saam met hul skoolklere aan te trek, en ook ‘n donasie te bring wat dan aan CANSA geskenk sal word.
Die hoofleiers het ook gepronk met hulle pienk en het selfs die skool so ‘n bietjie versier.
