Laerskool Krugersdorp-Noord is gretig om 2022 aan te pak met hul nuwe Graad 7-leiergroep wat op Donderdagaand, 28 Oktober aangekondig en ingehuldig is.
Die hoof- en onderhoofseuns asook -dogters het met die News gesels oor hul verwagtinge vir die komende skooljaar.
Nuwe hoofdogter, Caylee Jonker het verduidelik, “Ek wou ‘n leier wees om mense te help, hulle te lei en om ‘n voorbeeld te stel deur reg op te tree. Ek wil hê hulle moet na my toe kom vir hulp. Ek is ‘n bietjie bekommerd oor toesprake lewer voor die skool, soos in die saal of met ‘n sportdag, maar ek sien tog uit na alles.”
Hoofseun Iwan Oosthuizen het gesê, “Ek wil ‘n voorbeeld stel en kinders soveel moontlik help. Ek sien baie uit na volgende jaar en wil my onderwysers help en kinders se probleme oplos. Ek sien veral uit na die krieket en rugby volgende jaar.”
Onderhoofdogter Chanel Harmse het vertel, “Ek wil ook net die kinders help en ‘n voorbeeld vir hulle wees. Veral as ek sport doen kan ek hulle help om beter te presteer. As iemand ‘n probleem het op die skoolgronde sal ek hulle eers vra wat gebeur het en as dit erg is, hulle na ‘n onderwyser toe vat. Andersins sal ek die kind help en meer tyd saam met hom of haar spandeer om te kyk wat het gebeur. Ek sien uit om saam met die ander leiers te werk as ‘n span.”
Onderhoofseun Keagan Swart het gesê, “Ek wil graag ‘n voorbeeld stel vir die res van die skool en die kinder lei. As iemand ‘n probleem het gaan ek dit met hom/ haar uitpraat en hoor of hulle okei is. As ons dit nie kan uitsorteer nie sal ek hulle na ‘n onderwyser toe vat. Ek sien uit om my dienste deur pouses te doen.”
Onderhoofdogter Zanél Viljoen het verduidelik, “Ek wou ‘n leier wees om vir ander te wys wat reg en verkeerd is, en om hulle reg te help waar ek kan. As iemand hulp kort sal ek eerstens vra wat fout is en as hy/ sy seergekry het, sal ek hom/ haar kantoor toe vat, of vir ‘n onderwyser sê as iemand vir iemand anders slegsê, ensovoorts. Ek sien definitief uit dat ons leiergroep saam as ‘n span sal werk en om dit Noordskool se lekkerste jaar te maak.”
Onderhoofseun Divan du Plessis het gesê, “Ek dink ons moet kinders help waar ons ook al kan. Ek glo almal moet kan opkyk na die leiers as ‘n voorbeeld en vir leiding. As iemand ‘n ernstige probleem het, sal ek hulle speelgronddiens toe vat, en as dit nie so ernstig is nie sal ek dit self probeer uitsorteer. Ek sien die meeste uit dat alles hopelik na normaal sal kan teruggaan.”
