Local newsNewsSchools

Nories dra ander se belange op die hart

Laerskool Krugersdorp-Noord het met vanjaar se Omgeeweek-projek skenkings aan vier verskillende instansies aan die Wes-Rand oorhandig.

Laerskool Krugersdorp-Noord het twee jaar gelede met hul Omgeweek-inisiatief begin om geld vir hul voedingskema in te samel. Deur die loop van die Omgeeweek word die leerders aangemoedig om te wys dat hulle omgee vir hul medemens en sekere verbruiksgoedere word ingesamel.

Die projek het vinniger gegroei en groter geword as wat enigiemand by die skool verwag het, en twee jaar later het dit vir hulle moontlik geword om ook na buite uit te reik. Op Donderdag, 18 November het Noordskool vier liefdadigheidsorganisasies aan die Wes-Rand genooi na ‘n oorhandiging in die skoolsaal.

Micheal Nel (agter) en 2021 Onderhoofseun Zak Vrey

Die skool het verskeie behoeftes in die gemeenskap geïdentifiseer en die leerders en personeel, wat wou en kon, gevra om iets skool toe te bring, maak nie saak hoe klein nie. Daar was verskeie kategorieë.

Munte ter waarde van R5 000 is ingesamel en aan Cross Connect Community Outreach (CCCO) oorhandig in die vorm van ‘n komiese groot en simboliese tjek. Die kontant is in hul rekening inbetaal. CCCO wat ook House Nehemiah vir enkelgesinne sonder ander heenkome bestuur, help maandeliks ‘n paar duisend persone vanoor die Wes-Rand en het tans ‘n groot tekort aan voertuie om goedere af te lewer of kinders te neem waar hulle moet wees.

Zanél Viljoen help die die babaprodukte laai.

Goedere wat hoofsaaklik vir babas en jong kinders gebruik word, soos doeke, babakos, badprodukte en room is aan die One at a Time Foundation (ATF) van Randfontein oorhandig. Hul hoofdoel is om na mishandelde en verstote kinders om te sien.
Ninth Day gaan elke dag uit hul pad om verwaarloosde en verlore diere in te neem en te versorg, en het gevolglik gereeld ‘n groot behoefte aan donasies. Nories het ‘n groot hoeveelheid dierekos, skoonmaakmiddels en ander produkte ingesamel en aan die organisasie oorhandig.
Talle toegedraaide geskenkbokse is aan SAVF Môreglans vir die bejaarde inwoners oorhandig. Die skool het sover moontlik probeer hou by die wenslysies wat die bejaardes vooraf opgestel het, en die leerders het ‘n brief vir elkeen in die bokse geplaas.

Skoolhoof Charles Miller oorhandig ‘n geskenkboks aan Susan Bezuidenhout van Môreglans. Foto: Jaco Human.

Noordskool-hoof Charles Miller het gesê, “Ons almal is so aanmekaar geheg in wat ons doen, of dit nou is om na diere, weerlose babatjies, kinders of bejaardes om te sien. Ons almal is diensbaar aan die gemeenskap. Dit is die boodskap wat ons aan ons leerders oordra.”

Skoolhoof Charles Miller oorhandig die tjek aan Kyle Tolman van CCCO. Foto: Jaco Human.

Noordskool-onderwyser Quintin Botha wat gehelp het om die Omgeeweek te reël, het gesê, “Wanneer ons begin met Omgeweek vra ek vir die kinders om iets te gee – die kleinste, kleinste dingetjie wat jy kan gee kan die grootste verskil maak. Toe ons die insameling doen het kinders klein goedjies soos een koekie seep, een tandeborsel, en ‘n blikkie hondekos gebruik wat uiteindelik alles opgelewer het wat vandag hier voor ons staan.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Krugersdorp News in Google News and Top Stories.

Back to top button