Dit was ‘n hartseerdag van totsiens sê by Laerskool Ebenhaeser toe die Graad 7-groep van 2021 vir die laaste keer in die skoolsaal bymekaargekom het vir hul laerskool-afsluitingseremonie.
Vir sewe lang jare het die leerders saam met hul maats voor hul onderwysers grootgeword en ‘n noue band met hulle gevorm.
Die wete dat hulle dit alles in 2022 sal moet agterlaat en dat hul paaie sal skei wanneer hulle na hul onderskeie hoërskole toe gaan, het meer as net ‘n paar tot trane gedryf.

Dit was wel ‘n gelukkige geleentheid en ‘n dag van vieringe. Na ‘n emosionele toespraak deur skoolhoof Moira Steenkamp het die leerders buite bymekaargekom vir ‘n groepfoto voor hulle in ‘n ry tussen hul geliefde onderwysers deurgestap en elkeen vir die laaste maal gegroet het.
Laastens het die leerders deur die kantoor gestap vir die klokluiseremonie. Leerders lui die ou klok wanneer hulle vir die eerste keer as Graad 1’s by die skool instap en weer wanneer hulle aan die einde van hul laerskoolloopbaan kom.

Gedurende haar toespraak het Moira vir haar leerders raad gegee vir hoërskool.
Moenie wegkruip nie. Neem deel. Maak seker jy is deel van daardie span. Onthou dat jy nog ‘n kind is. Wees ‘n kind vir so lank as wat jy kan. Gaan speel, gaan draf en gaan doen dinge! Wat jy ook al eendag wil bereik is binne jou om te doen. Vir die ouers: Ons moet bid en ons moet vertrou dat dit wat ons vir hulle geleer het genoeg was om hulle deur te dra.”



