Die 2021-skooljaar het tot ‘n einde gekom en daarmee saam verlaat nog ‘n Graad 7-groep die laerskool. Terselfdertyd berei die 2022 Graad 1’s voor vir grootskool.
Om die kleingoed gewoond te maak aan die idee van laerskool en om die ouers gerus te stel dat hul kinders in goeie hande sal wees, het Laerskool Krugersdorp-Noord ‘n verwelkomingsdag op Vrydag, 3 Desember aangebied.

Ouers en voornemende leerders het die oggend op die pawiljoen gesit waar skoolhoof Charles Miller en adjunkhoof Gerhard Myburgh hulle toegespreek het. Daarna het die skool se Dynamic en Atomic Eagles ‘n indrukwekkende dans uitgevoer.
Charles het aan die ouers gesê, “Ons glo en vertrou dat elkeen van u en u seun en dogter die goudpot aan die einde van die reënboog hier gaan ontdek, en dat hulle op akademiese, sport- en kultuurgebiede asook in al die ander skoolaktiwiteite gaan presteer. Ons glo dat u seun en dogter baie hoë hoogtes gaan bereik.”

Leerders is daarna vir die eerste keer in hul klasgroepe ingedeel, en hulle kon hul nuwe klaskamer gaan ontdek en met hul nuwe juffrou gesels.
Hierdie onderwysers se passie kan nie gedemp word nie. Vanoggend hoor ek ‘n juffrou sê ‘Sien jy hierdie tas? Dit was my Graad 1-tas’. Kan jy dit glo, dames en here? Dit is die passie waardeur ons personeel leef as jy jou eie Graad 1-tas oppas en dit op ‘n dag soos vandag hier kan gebruik om ‘n voorbeeld te stel en te sê: ‘Ek was ook baie jare gelede in Graad 1 en vandag maak ek ‘n verskil,” het Charles laastens gesê.
Die skool gaan aanstaande jaar sowat 135 Graad 1’s hê en hul eerste skooldag is op 12 Januarie.
