Helena Hern-Jansen van Vuuren, Curro Castle-hoof, en Harry Bateman, Curro Krugersdorp Laerskool-hoof het ‘n aantal wenke gegee wat veral sal help dat ouers en hul jong kinders beter sal aanpas by groot veranderinge.
Dit kan ‘n skok vir enigiemand wees om skielik weggeneem te word van die mense en omgewing waaraan jy oor die jare gewoond geword het en jou dan in ‘n situasie te bevind wat jy glad nie ken nie. Dit geld ook vir kleuters wat vir die eerste keer skool toe gaan, Graad 1’s wat nou in ‘n meer gevestigde akademiese struktuur moet funksioneer, hoërskoolleerders wat terugkeer skool toe, en volwassenes wat by ‘n nuwe plek begin werk.
Dit is daardie angs wat kinders beleef as hulle iets nuut ervaar; hulle moet afskeid neem van hul primêre versorger. Twee- tot sesjariges ervaar skoolskeidingsangs, en dit is 100% normaal.
Maar as dit langer as twee maande aanhou moet jy begin besef dit kan moontlik iets anders wees en intree, en dalk ‘n sielkundige gaan spreek, of iets van daardie aard. Dit kan wel ook manipulasie wees; hy is die dag nie lus vir skool nie en sê vir ma ‘ek wil nie skool toe gaan nie’. Die simptome van skeidingsangs wat mens baiekeer by kinders sien, is dat hulle kla oor maagpyn, of sê ‘ek is naar, my kop is seer’. Baie volwassenes gebruik dit ook as ‘n verskoning. Dit is maar alles senuwees wat ‘n rol speel.”
Harry het genoem dat hierdie angs ook by laerskoolleerders voorkom, maar wel effens anders. “Van die vrese wat hulle moontlik kan hê is om terug te keer na ‘n skoolomgewing, om nie meer dieselfde vriende te hê nie, of om ‘n nuwe groep vriende te moet maak, of om hul ouers en huis agter te laat, heeldag ‘n masker te dra, en bang te wees dat hulle ‘n virus opdoen en hul grootouers aansteek.”
“Dit gebeur op die een of ander tyd met alle kinders. Vir die eerste drie weke was skool vir hierdie kind fantasties. Op week drie is die realiteit daar, ‘my ma laai my af en kom haal my eers baie later!’ Elkeen se ontwikkelingsfase is anders en elkeen ervaar dit ook anders,” het Helena genoem.
Harry wil graag vir ouers gerus stel.
Jou kind sal oukei wees. Moenie jou vrese deur jou kind uitleef nie. Dit is meer gereeld die ouers wat aan skeidingsangs ly, en nie die kind nie.”
Harry het ‘n paar riglyne voorgestel om leerders te help voorberei om skool toe te gaan:
• Wees positief en praat in ‘n rustige stemtoon oor die ‘nuwe avontuur’.
• Moet hulle nie vertel van hoe baie jy hulle gaan mis nie. So ‘n stelling speel op hulle emosies en mag hulle laat dink hulle gaan jou teleurstel en hartseer maak.
• Moenie oordryf nie. Indien jou kinders se aanvanklike ervarings nie ooreenstem met hul verwagtinge nie, kan skool skrikwekkend en nie opwindend voorkom nie.
• Wees versigtig om nie beloftes te maak waaroor jy as ouer nie beheer het nie, soos om te belowe jou kind sal vinnig vriende maak.
• Reël om die onderwyser vooraf saam met jou kind te ontmoet, en wys vir hulle dinge wat vir hulle belangrik sal wees, soos waar hulle gaan speel.
• Jou kind sal leidrade by jou kry oor hoe om te voel, wees dus positief en bly kalm. Moet hulle nie vra of hulle bang is nie.
• Moet geensins jou eie rillerverhale van jou eerste skooldag met hulle deel nie.
• Skep ‘n aflaairitueel wat hulle gemaklik sal laat voel en bekendheid sal skep.
• Moet nooit wegsluip nie. Herinner jou kinders dat jy sal terugkom om hulle te kom haal, en maak seker jy hou daarby. Wanneer jy jou kinders oplaai, herinner hulle daaraan dat jy belowe het om dit te doen.
• Moet hulle nie met ander kinders vergelyk nie. Ons hoor te gereeld: “Moenie ‘n baba wees nie. Sien jy, Johan huil nie.”
• Wag totdat jy die skoolgronde verlaat het voordat jy self begin huil.
• Wanneer jy uit die klaskamer of skool stap, moenie omkyk nie.
Helena het ‘n goeie wenk vir die jonger kinders bygevoeg.
Stuur iets van die huis af saam. Baie van die mammas stuur iets soos ‘n teddiebeer, of teken ‘n hartjie op die kindjie se hand en sê ‘elke keer as jy na daardie hartjie kyk, dan weet jy ek is lief vir jou en dink aan jou’. Dit werk soos ‘n bom!
