EntertainmentLifestyleLocal newsNews

KYK: Noordheuwel se Marisa stel eerste musiekvideo bekend

Plaaslike sanger Marisa Odendaal het onlangs haar eerste musiekvideo vrygestel en is tans besig met die afronding van haar eerste album.

Elke persoon beleef sang op ‘n unieke manier. Marisa Odendaal se liefde vir musiek strek veel dieper as net om saam te sing wanneer ‘n lied oor die radio speel, of om voor ‘n gehoor op te tree.

Ek wil nie net musiek maak nie; ek wil werklikwaar ‘n impak op mense se lewens maak. Ek dink mense het nou hoop nodig, meer as ooit.

“Een middag nadat ek my kinders by Wiskundeklasse afgelaai het – dit was gedurende ‘n moeilike tyd en ek was nie so gesond nie – het ek in die kar gesit en wonder hoe ek hierdie kwartaal gaan maak. Dit was asof die Here vir my hierdie woorde gegee het, en ek het een van die kinders se boeke gegryp en die woorde begin skryf.”

Dié woorde het ontwikkel tot haar eerste enkelsnit, Alles Vir Jou, wat ook later die naam van haar album geword het.

Haar jongste lied en ook haar eerste musiekvideo Plaasmeisiekind (onder) is gebore uit haar verlange na haar kinderdae op die plaas net buite Krugersdorp waar sy grootgeword het.

“Dit was nog altyd my en my man se begeerte om ons kinders buite die dorp groot te maak. Ons kon so twee jaar terug ‘n stukkie grond koop, en terwyl ek op daardie stukkie grond staan en onthou hoe ons grootgeword het, kleilat gespeel het, deur die doringdraad geklim het en vrugte van die bome af kon pluk en eet, het ek die begeerte ontwikkel om Plaasmeisie te skryf.

“Ek het ook ‘n lied vir my dogtertjie geskryf met die naam Mooi, ook met ‘n boodskap daarin. Sy het ‘n maat oorgenooi en in die kar het ek die een hoor sê ‘jy’s so gelukkig want jy het so min beenhare’, of ‘jou hare is so mooi blond’, en net daar het ek besef dat ons almal so geneig is om onsself met ander te vergelyk. Dit gaan daaroor om eers na binne te kyk, want jou skoonheid word van binne af gebore,” het Marisa verduidelik.

Sy het ook vertel dat sy graag meer by damestee-, ma-en-dogterfunksies ensomeer wil optree om ‘n boodskap van inspirasie en positiwiteit oor te dra. Dit is haar groot droom om eendag op die Afrikaans is Groot-verhoog op te tree.

Haar volledige album sal eers om en by die begin van Maart vrygestel word maar van haar enkelsnitte is tans op verskeie platforms beskikbaar. Besoek gerus haar Facebook-blad by Marisa Plaasmeisiekind.

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Krugersdorp News in Google News and Top Stories.

Clinton Botha

For more than 4 and a half years, Clinton Botha was a journalist at Roodepoort Record. His articles were regularly published in the Northside Chronicle now known as the Roodepoort Northsider. Clinton is also the editor of Randfontein Herald since July 2020. As a sports fanatic he wormed his way into various "beats - as the media would know it - and admits openly that his big love always have something to do with a scoreboard, crowds and usually a ball that hops.
Back to top button