Piepklein voorbladbaba nou ‘n kranige atleet
Behalwe dat Nicah op die News se voorblad verskyn het sewe jaar terug was sy een van 16 Nuwejaarsbaba's. Vandag is sy in Graad 1!
Sewe jaar gelede was Nadia en Cliff Pretorius in die sewende hemel met die geboorte van hul dogter Nicah. Vanjaar is dit Nicah se beurt om in die wolke te wees.
Op 1 Januarie 2015 teen omstreeks 07:27 is Nicah Pretorius in die Netcare Krugersdorp Privaat-hospitaal gebore. Sy was een van 16 Nuwejaarsbabas en het 2,10kg geweeg. Nicah wat destyds op die voorblad van die 9 Januarie 2015-uitgawe van die News verskyn het, is vanjaar in Graad 1.
Die Pretorius-huishouding loop ongetwyfeld oor van trots.

“Ek was daardie dag toe die voorbladfoto geneem is ietwat senuweeagtig, en vandag is ek ‘n baie trotste pa,” het Cliff gesê.
Ek is baie emosioneel. My klein wonderwerkie gaan nou al skool toe en ek kan nie glo hoe vinnig die tyd verbyvlieg nie. Sy was hierdie piepklein baba en is nou ‘n onafhanklike kind,” het Nadia gesê.
‘n Wonderwerk is Nicah inderdaad nadat haar ouers twee jaar gesukkel het om swanger te raak. Vandag het hulle twee dogters waarvan Nicah die oudste is. Nicah is boonop ‘n uitmundtende Mullies-atleet en is reeds een van die Top 6-kortafstandatlete in die 60m en die 80m vir dogters o.7.
Nicah kan natuurklik glad nie haar geboorte onthou nie maar sy weet beslis dat sy op die voorblad saam met haar ouers verskyn het. Haar antwoord toe sy gevra is hoe sy oor skool voel, was, “Die eerste ding wat ons doen is bid vir Jesus. Daarna sê ons dankie vir Jesus. Ons sing dan ons skoollied en vang gees met ‘Visblikke, jam-blikke’ … O ja en dan ‘Vere’. Ek is baie lief vir skool want dit maak jou slimmer en slimmer.”
Vir hierdie gesin wat redelik nuut in Noordheuwel is, is dit weer ‘n nuwe begin maar wie weet, miskien verskyn hulle binnekort weer op die News se voorblad met hul derde kind.

