Daar is weer baljaar en lekker saam gelag by Laerskool Krugersdorp-Noord op die koel Vrydagoggend, 8 April nadat die tweede kwartaal begin het.
Terwyl leerders by hul registerklasse aangemeld het, was personeel hard aan die werk om die opblaasglybane en springkastele op te slaan en renbane op die sportveld uit te lê.
Leerders was opgewonde om uiteindelik sportveld se kant toe te kon stap vir die skool se jaarlikse kaskardag, nadat hulle heelweek danspassies saam met hulle onderwysers ingeoefen het.

Die sewe grade kon elkeen volgens ‘n tema aantrek – die meeste het ‘n kartema gekies – en ‘n dansroetine voor hul ouers en ander leerders uitvoer. Die wenners wat elk uit die junior en senior groepe gekies is, was die Graad 3 ‘Fast Minions’, en Graad 7 ‘Fast and Furious’ wat elkeen ‘n trofee ontvang het.
Elke graad het ook ‘n klaswenner tydens die wedren gehad, en dit was die een wat die kaskar die meeste rondtes gestoot het. Die kinders wat die meeste geld ingesamel het gaan op ‘n uitstappie Gold Reef City toe, en die klas wat die meeste geld ingesamel het gaan op ‘n uitstappie na iJUMP-trampolienarena toe,” het onderwyser Quintin Botha verduidelik.
Verlede jaar het streng regulasies by die kaskardag gegeld, en net ‘n handvol toeskouers mag dit bygewoon het. Vanjaar kon ouer shul kinders vanaf die paviljoen aanspoor en leerders kon meer vrylik oor die veld beweeg.
Quintin het verduidelik dat dit deel vorm van hul jaarlikse fondsinsamelingsinisiatiewe en dat daar nog besluit sal word, afhangend van die bedrag wat ingesamel is, vir watter skoolprojekte dit gebruik sal word. Verlede jaar se opbrengs is hoofsaaklik aangewend om die skool se nuwe grootmotoriese-baan op te rig.
Quintin het laastens gesê, “Baie dankie aan ons gemeenskap wat volhou met die ondersteuning, en ons personeel wat hard gewerk het om vir ons kinders so ‘n lekker dag te gee”.


