Local newsNews

BRIEF: Rolbal nie vir sissies nie

Hoe moeilik kan rolbal nou wees? Ek het op die harde manier uitgevind toe ek 'n Familiedag by 'n plaaslike rolbalklub op Paasmaandag bygewoon het — redakteur.

• Die redakteur skryf:

Rolbal. Hoe moeilik kan dit nou wees?

Ek het op die harde manier uitgevind toe ek en my skoonfamilie op Paasmaandag ‘n Familiedag by Noordheuwel Rolbalklub bygewoon het.

Toe ons ‘n paar dae voor Goeie Vrydag die uitnodiging kry het ek gedink oukei, dit is ‘n bietjie iets anders, hoekom nie?

Na twee dae van reën was ons ook nogal gretig om ‘n bietjie uit te kom. Paasmaandag so teen 09:30 is ek, my vyfjarige seun en vrou met ywer in die kar op pad rolbalklub toe. Ek gaan rolbal speel, my seun gaan Paaseiers soek en soos enige vrou en mamma is sy daar om ons te ondersteun.

Met al die ander sportsoorte waarby ek al betrokke was is ek gewoond om ‘n mondskerm, kniestut, ball bucket en kolfhelm saam te neem, maar dié keer was dit glad nie die geval nie. Al wat jy kort is ‘n hoed, ‘n paar tekkies, sonroom en ‘n lappie om die bal af te vee.

Met ons aankoms is almal in spanne opgedeel, en ek was op baan 1 in aksie. Die formaat was trips (drie spelers in ‘n span). My spanmaats was ‘n gesoute speler so in haar 50’s skat ek, en die ander ‘n jong vrou wat nes ek geen benul gehad het hoe om die sport te speel of wat vir ons wag nie.

Ons opponente was ‘n bejaarde man en vrou, en ‘n middeljarige man, elkeen met hul eie rolbalsak – toe weet ek hier kom ‘n ding. Indien mense hul eie sporttoerusting het, neem hulle die sport ernstig op. Met trips het jy ‘n lead (persoon wat eerste rol) dan ‘n tweede speler en laastens jou skip (die ‘kaptein’ en persoon wat laaste rol). Ek was lead.

Ek trek los om die kat (wit balletjie) te plaas en direk daarna moes ek my eerste bal rol. Min het ek geweet die bal het ‘n gewig aan die een kant en toe ek beplan om reguit te gooi trek hy heel links tot amper in baan 2 waar die ander spanne speel. O griet! Toe moes ek hierdie gewigstorie uitwerk. Na 15 ente het ek steeds nie geweet hoe om die bal vas te hou nie maar gooi gaan ons gooi. “Dit vat maar jare ou seun,” het my bejaarde opponent gesê. Hier en daar het ek darem die bal naby die kat gekry maar my blydskap het nie lank gehou nie omdat die opponente dit weer vinnig wegstamp het. Na ure se gesukkel en my balle wat telkemale óf skeef óf in die sloot geval het, het ek en my span maar slegs ses punte gehad teenoor ons opponente se 24. Wat ‘n pak slae!

Wat leer ek hieruit? Moet nooit enigiemand onderskat nie, veral nie bejaarde opponente in ‘n rolbalstryd nie.

Sal ek wel weer speel? Absoluut. Was dit genotvol? Absoluut. Rolbal is besig om teen ‘n geweldige tempo te groei, veral onder die jongklomp. Ons het reeds telkemale oor die jonges se prestasies in ons koerante berig en hoe klubligas vir onderwysers begin vlamvat het.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Krugersdorp News in Google News and Top Stories.

Clinton Botha

For more than 4 and a half years, Clinton Botha was a journalist at Roodepoort Record. His articles were regularly published in the Northside Chronicle now known as the Roodepoort Northsider. Clinton is also the editor of Randfontein Herald since July 2020. As a sports fanatic he wormed his way into various "beats - as the media would know it - and admits openly that his big love always have something to do with a scoreboard, crowds and usually a ball that hops.
Back to top button