Monnas plant ‘n boom vir die omgewing
Monumentare het saam met 'n paar ander Internasionale Plantwaarderingsdag gevier deur 'n kiepersolboom op die skoolterrein te plant.
Hoërskool Monument en die Rotary-klub van Krugersdorp het onlangs saam ‘n goeie daad verrig wat eendag ‘n groot impak op die omgewing kan hê.
Met die oog op Internasionale Plantwaarderingsdag het raadslid Mark Trump met Andrew Hankey van die Walter Sisulu Nasionale Botaniese Tuin gaan gesels, met die gevolg dat ‘n kiepersolboom aan Monnas geskenk is vir dié geleentheid. Kiepersolbome kan tot vyf meter hoog groei.
Monnas se Interact Club het die boom ontvang en langs die monument op die skoolterrein geplant.
Die klub is in 2020 gestig en word bestuur deur onderwyser Janneke Dykema in samewerking met Rotary om verskeie liefdadigheidsprojekte in die gemeenskap te behartig en so die leerders te leer wat dit beteken om ander te help en ‘n verskil te maak.
Dit is ‘n wonderlike inisiatief en laat ons leerders toe om ‘n rol te speel om die gemeenskap te verbeter,” het Janneke vertel.
Lynette Musgrove van die Rotary-klub het hard gewerk om die boomplantdag te reël.”Ons wou iets doen vir Internasionale Plantwaarderingsdag en aangesien Monnas deel is van ons klub wou ons hulle deel daarvan maak. Ons betrek hulle graag by dinge wat saak maak,” het sy verduidelik.

