Die VLU: Kuier-kuier ontwikkel dié vroue hulself
Die lede van die Vrouelandbou-unie (VLU) Fuchsia-tak vergader een keer per maand en ontvang dan opleiding in iets nuut.
Die Vrouelandbou-unie (VLU) Fuchsia-tak is nog sterk aan die gang en sê dat hulle elke vrou die geleentheid wil bied om haar uniekheid en talente uit te leef.
Op 20 April het die Fuchsia-taklede geleer hoe om Sri Lanka-appliek te maak.
Estelle Olivier, die tak se skakelbeampte het verduidelik hoe die VLU ontstaan het. Die Transvaalse Vrouellandbou-unie is op 8 September 1925 gestig toe 55 vroue in die raadsaal van die ou stadshuis in Pretoria bymekaar gekom het. Hul mans was by ‘n Transvaalse Landbou-uniekonferensie en die vroue het ‘n behoefte gehad om hulself op te hef en ‘n bydrae tot hul gesinne te maak. Die VLU was dus die ‘universiteit van die huisvrou’.
Daarna het ander provinsies Transvaal se voorbeeld gevolg om sedert 1931 die Suid-Afrikaanse Vrouelandbou-unie te vorm. Vandag is die SAVLU in sewe provinsies bedrywig.
VLU is nie meer net op die boervrou gerig nie. Alhoewel van die lede se manne nog boer, woon die meerderheid van ons lede in dorpe en stede.
“Die VLU het dinamiese vroue wat hulself op alle lewensterreine van vrouwees wil bekwaam en verryk tot diens van die gemeenskap. VLU bied aan elke vrou ‘n wonderlike geleentheid om haar uniekheid en talente uit te leef,” het Estelle vertel.
Die Fuchsia-tak is op 18 November 2002 gestig en het tans 11 lede.
Die doel van die VLU is om kennis in te win en met ander te deel; om talente te ontdek en te ontwikkel om sodoende ‘n beter vrou, moeder en opvoeder te wees; om standaarde en eise vir jouself te stel en dit te handhaaf om net met die beste tevrede te wees; om mensekennis te verbreed en jou lewensuitkyk te verruim; om te volhard totdat jy verbeter het; om kritiek met waardigheid te aanvaar; om jou vriendekring uit te brei; en om jou sorge eenkant toe te skuif en in ‘n gesellige luim te verkeer.

Die lede vergader een keer per maand en ontvang dan opleiding in iets nuut soos borduurwerk, hekelwerk, breiwerk, masjienwerk, handvlyt, skryfkuns, fotografie, tekenkuns, gebak, blommerangskikking en nog meer.
Hulle probeer om elke jaar ‘n winterskool in die Junie/ Julie-vakansie vir dogters aan te bied.
Enige vrou bo 16 is welkom om by hulle aan te sluit. Al wat jy hoef te doen is om een van hul vergaderings by te woon en self te gaan kyk wat hulle alles kan bied.
Die Fuchsia-taklede vergader elke derde Woensdag van die maand by die Wes-Randse Vereniging vir Gestremdes op die hoek van Frans Korb- en Wheelerstraat in Oatlands. Hul volgende vergadering is op 18 Mei om 09:00.
Indien jy meer wil uitvind skakel gerus die voorsitter, Maryna van der Merwe by 083 980 5770 of Estelle by 062 830 9192.
