Laerskool Ebenhaeser het onlangs vir Frikkie Klopper verwelkom as die skool se nuwe hoof.
Frikkie, ‘n gebore Wes-Rander wat al 24 jaar in die onderwys is het op 11 April sy nuwe pos by die skool aanvaar.
Hy is in Randfontein gebore en beskou onderwys nie bloot as ‘n beroep nie maar as ‘n roeping. Hy het eers twee ander loopbane oorweeg, maar hy kom uit ‘n familie van onderwysers en saam het hulle dit ‘n gebedsaak gemaak.
Sy eerste onderwyspos was by die hedendaagse Westgold Primary. Hy het in 2007 by Laerskool Ebenhaeser aangesluit en toe van 2008 tot 2011 by Laerskool Muldersdrif gewerk. Tussen 2011 en 2014 was hy ‘n departementshoof by Laerskool Protearif en daarna die adjunkhoof by Laerskool Muldersdrif tot sy aanstelling by Laerskool Ebenhaeser.
In sy jare as onderwyser het hy al elke vak aangebied en het vir Graad 3 tot 7 skoolgehou, maar sy gunstelingvakke om aan te bied is Engels en Sosiale Wetenskappe.
Frikkie het vertel dat hy nog altyd ‘n hoofpos in sy visier gehad het. Hy onthou hoe hy ewe optimisties as student vertel het dat hy binne vyf jaar die hoof van ‘n skool wou wees, maar hy weet dat die Here hom tot hier gelei het.
Toe die pos vir die derde keer die afgelope paar jaar geadverteer is, het hy aansoek gedoen.
Die Vader het my gelei na Ebies toe,” het hy gesê.
Frikkie het vertel dat die skool reeds ‘n hele paar goeie projekte aan die gang het waarmee hy sal wil voortgaan. Hy wil ook goeie waardes by die skool koester en die gemeenskap betrokke kry. Hy wil probeer om elke kind toe te laat om holisties te ontwikkel volgens hul vermoëns.
“‘n Mens moet jou gemeenskap dien en ek wil trots terugbring na die onderwys toe. Dit is ‘n roeping en onderwysers lê die basis vir al die kinders wat eendag direkteure wil word.”
Vir hom is die lekkerste deel van die onderwys wanneer hy ‘n lig in ‘n kind kan sien skyn. “Elkeen het ‘n droom en ons moet dit laat ontwikkel. Ek wil nie net hê ons moet vir ‘n jaar ‘n verskil maak in ‘n kind se lewe nie maar ons visie moet ook gerig wees op daardie kind se pad na skool,” het hy vertel.
Een van die ander dinge wat hy wil doen is om tegnologie in die klaskamers te bevorder sodat die onderwysers en leerders gereed kan wees vir die rigting waarheen die wêreld beweeg.
Iets wat mense dalk nie van die nuwe hoof weet nie is dat hy in sy vrye tyd Brazilian jiu-jitsu beoefen. Hy ontspan ook wanneer hy na ‘n lekker reeks kyk, en speel kitaar en bedien in hul gemeente.