Local newsNews

Gewilde Wes-Randse arts sterf na kankerstryd

Familie bring met hartseer hulde aan Dirk Lourens wat sedert 1993 die groter Hekpoort-gebied so ver as Maanhaarrand en Magaliesburg in die weste, tot Skeerpoort in die ooste as dokter gedien het.

Dirk Lourens, 54, is op Sondag, 1 Mei na `n ses jaar lange stryd teen kanker oorlede.

Hy word oorleef deur sy vrou, Lunell en twee seuns, Peter-Colés, 22, tans `n regstudent aan UP, en Jan-Adriaan, 18, ‘n matrikulant aan die Afrikaanse Hoër Seunskool.

Dirk het sedert 1993 vir sowat 24 jaar die groter Hekpoort-gebied so ver as Maanhaarrand en Magaliesburg in die weste, tot Skeerpoort in die ooste as dokter gedien. As boorling van Hekpoort was hy in Laerskool Hekpoort waar hy in 1980 hoofseun was, en het aan die Hoër Landbouskool Bekker gematrikuleer. Daarna is hy Tukkies toe om medies te studeer.

In die sowat 24 jaar het hy sy gemeenskap soos ‘n ouwêreldse dokter gedien en was dit nooit vir hom te veel moeite om tuisbesoeke te doen, of om laat saans en snags sy pasiënte te help nie.

Daarbenewens het hy vir baie jare Vrydae-aande in die Krugersdorp Privaat Hospitaal se ongevalle-afdeling diens gedoen. As leergierige medikus het hy hom altyd op hoogte van die nuutste medikasie en ontwikkelinge gehou om die beste diens vir sy pasiënte te lewer.

Sy skranderheid het ook uit sy besondere algemene kennis geblyk en hy het in 1991 saam met sy broer, Cerneels, die landswye gesinsvasvra van die Afrikaanse Radiodiens (tans RSG) gewen. Aan die begin van die 2000’s het hy in die finaal van Flinkdink op TV teen Tom Lanie verloor. Hy het `n groot liefde vir plante en veral blomme gehad, en sy pragtige tuin op sy plaas in Hartebeesfontein langs Hekpoort was ‘n lushof.

Sy skatkis van talente het nog verder gestrek deurdat hy ongelooflik mooi geskilder het. Hy het met trots geskerts dat van die oorspronklike skilderye van John Constable wat hy nageskilder het, in sy huis gehang het.

Op 4 Mei 2016 is beenmurgkanker by hom gediagnoseer. Hy het wonderbaarlik die gewasverwyderingsoperasie oorleef maar het permanente skade gekry en was gedeeltelik verlam. Na `n stamseloorplanting kon hy na lang rehabilitasie weer sy lewe voortsit te midde van voortdurende chemoterapie terwyl die kanker in remissie was. Hy kon nie met sy praktyk voortgaan nie maar hy het Lunell met die Arabierperd-boerdery en met die aanplant van pekanneute op die plaas bygestaan.

Dirk het toe hierdie genadetyd gebruik om meer by sy seuns betrokke te wees en het onder andere langafstand-perderitte van Lunell en die seuns meegemaak.

In Junie 2021 het hy Covid-19 met verskeie ernstige komplikasies opgedoen en kon nie chemo in daardie tyd kry nie. Die kanker het weer toegeslaan en na nog chemo en bestraling sedert Januarie is hy vroeg in April huis toe. Daar het Lunell en die seuns kosbare groettyd met hom bestee.

Die waarde van lewe en om nog ‘n dag te lewe het hy vir almal uitgeëts: in sy professionele lewe en met sy wil om met kanker te lewe.

Dirk en Lunell het verlede jaar hulle silwerhuweliksherdenking gevier en haar ondersteuning en bystand vir Dirk in hierdie moeilike tyd was merkwaardig. Die voortgesette ondersteuning van sy vriende, oudpasiënte en familie het hom deur hierdie moeilike tyd gedra. Ander gesinne wat met kanker gekonfronteer word sal weet waardeur hierdie gesin is, veral die spanning wanneer daar weer toetse gedoen moet word.

Sy belangrikste anker was sy geloof in Jesus Christus en dit was vas en seker. Toe ek hom verlede week, toe hy skaars nog gepraat het, gevra het of hy bang was, het hy beslis ‘nee’ geantwoord,” het Cerneels gesê.

“Ons is hartseer maar dankbaar teenoor God vir die genade van sy lewe en veral vir die ses Hiskia-jare,” het die familie gesê. Dirk was die jongste en word verder oorleef deur sy susters Ria Lawrenson, Sannie Malherbe en broers Piet en Cerneels.

‘n Gedenkdiens om dankie te sê vir die genade oor sy lewe vind Saterdag, 7 Mei om 11:00 by die NG Kerk Skeerpoort plaas.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Krugersdorp News in Google News and Top Stories.

Clinton Botha

For more than 4 and a half years, Clinton Botha was a journalist at Roodepoort Record. His articles were regularly published in the Northside Chronicle now known as the Roodepoort Northsider. Clinton is also the editor of Randfontein Herald since July 2020. As a sports fanatic he wormed his way into various "beats - as the media would know it - and admits openly that his big love always have something to do with a scoreboard, crowds and usually a ball that hops.
Back to top button