Gert lei nog sy tuinspan op 80
Gert van Ennenes, 80, en sy tuinspan val reeds 07:00 in die pad om te sorg dat tussen tien en 15 tuine per dag in die Krugersdorpi en Roodepoort-area aandag kry.
Hulle is een van die bekendste tuindienste aan die Wes-Rand en al het die eienaar op 10 Mei sy 80e verjaarsdag gevier, is daar geen teken van aftree of die grassnyer afskakel by hom nie.
Gert van Ennenes en nog vyf lede van sy span val reeds om 07:00 in die pad om te sorg dat tussen tien en 15 tuine per dag in die Krugersdorp- en Roodepoort-area aandag kry. Hy het altesaam 80 kliënte en dis duidelik hoekom.
Ek kan nie net in die trok sit nie … ek hark, vee en sny selfs gras. Ek en my tweelingbroer is op ‘n plaas grootgemaak waar ons nie op die kantlyn gesit het nie. My ouers het my geleer om hard te werk,” het Gert gesê.
Oorspronklik van Vanderbijlpark het Gert en sy vrou in 2000 Krugersdorp toe getrek. Hulle het skaars hul voete gevind toe begin Gert sy besigheid genaamd G & A Tuindienste. Intussen is ‘n verhouding met die News gevestig wat vandag nog bestaan.
“Ek ondersteun die News. Hulle is die koerant wat my nog al die jare bystaan. Dis ‘n puik koerantjie en hulle het vir my baie kliënte ingebring.

“Ek werk goed met my kliënte en waardeer wat hulle al die jare vir my doen. Hulle kan my dag of nag skakel met hul tuinprobleme, ek sal help. As ‘n tuinier moet jy bereid wees om almal se probleme te akkommodeer sodat almal gelukkig kan wees.”
Gevra wanneer hy die tuinvurk gaan ophang het Gert geantwoord, “My vrou karring gereeld dat ek moet ophou maar solank my bene reg en ek gesond is, sal ek aanhou tot ek 90 is. Ek is nie bereid om in ‘n huis te sit nie. Ek is te woelig. Ek geniet my lewe so. Ek skeep my vrou partykeer af want ek is nie kort-kort by haar om tee te drink nie maar ek geniet myself. Ek weet nie wat die lewe vir my inhou nie maar solank ek gesond is sal ek aanhou.
Ek hou van die buitelug en wil nie vasgedruk wees in ‘n gebou nie. Tuindienste is vir my baie belangrik en die werk wat ek doen moet opreg en eerlik wees. Die mense moet iets kry vir hulle geld wat hulle vir my gee,” het hy afgesluit.
