Kom geniet ‘n pretloop ten bate van Hopelands
Indien jy die organisasie wil help kan jy hulle gerus met die pretloop gaan ondersteun wat Jenny-Lee Swanepoel, Mevrou Krugersdorp 2021/2022 saam met AfriForum reël.
Jenny-Lee Swanepoel, Mevrou Krugersdorp 2021/2022 werk saam met AfriForum om ‘n pretloop vir liefdadigheid te hou en die gemeenskap word genooi om saam te stap en hulle te ondersteun.
Die pretloop sal op Sondag, 26 Junie by die Sterkfontein Heritage Lodge plaasvind en dit sal jou net R60 uit die sak jaag. Inskrywing sluit ‘n ontbytbroodjie en lugfoto in.
Deelnemers kan kies of hulle enigiets van een tot vyf kilometer tussen 07:00 en 15:00 wil saamstap.
Die geld wat hiermee ingesamel word gaan aan die Hopelands Home for Orphaned Babies in Magaliesburg, een van Jenny-Lee se projekte waardeur sy hulp verleen.
Sy het vertel dat hulle sowat R17 500 nodig het om vir die babahuis ‘n brandmuur te bou en dan is daar ook nog baie ander opknap- en bouwerk wat gedoen moet word die huis leefbaar te maak.
Die Hopelands-organisasie beoog om ‘n gemeenskap te bou waar hulle vir die kinders in hul sorg ‘n stabiele familie-omgewing kan skep. Hulle wil ook graag ‘n gemeenskapsopleidingsentrum bou. Hulle het reeds die babahuis wat hulle begin opknap het.
Volgens hul statistieke is daar net in September 2020 regoor Suid-Afrika 13 weggooibabas gevind, waarvan agt nog geleef het.
Hulle visie is om hoop terug te gee aan dié wat hopeloos is. Die belangrikste behoeftes op die stadium is boumateriaal vir hul babahuis, sekuriteit op hul eiendom, om selfonderhoudend te wees ten opsigte van energieverbruik, orde te skep in hul tuin, meubels en toebehore vir die babahuis, kos, klere en medisyne vir die babas, en personeel om na die babas te help omsien.
Indien jy die organisasie wil help kan jy hulle gerus met die pretloop gaan ondersteun. As jy dit nie kan bywoon nie is daar in Junie nog ‘n geleentheid om hulle te ondersteun wanneer hulle hul gholfdag aanbied.
Die Hopelands Gholfdag vind op 10 Junie by die Krugersdorp Gholfklub plaas. ‘n Vierbal gaan net R4 000 kos en spel begin om 12:00 met ‘n ‘shotgun start’. Daar is nog vierballe beskikbaar.
Vir enige verdere inligting skakel gerus vir Jenny-Lee by 074 487 3803. Skakel gerus vir Jonathan Lamprecht by 071 078 5293 om meer uit te vind oor die pretloop.
Indien jy by Hopelands betrokke wil raak, geskakel hulle gerus by 082 664 4349.
