Rotariërs groei met elke nuwe president
Aan die einde van Junie sal die Rotariër Klub se president, Gerda-Marie de Beer die leisels aan Brendan Boraine oorhandig.
Aan die einde van Junie sal die Rotariër Klub se president, Gerda-Marie de Beer die leisels aan Brendan Boraine oorhandig. Die News het by die twee gaan inloer.
Gerda-Marie was van April vanjaar af die klub se president en sy het verduidelik dat hulle elke drie maande ‘n nuwe president kies omdat hul klub so klein is. “So kry almal die geleentheid en voorreg om president te wees.”
Sy geniet die klub se Bingo-aande vreeslik en is aan die stuur van die beplanning vir die volgende een wat in Oktober sal plaasvind. Die Bingo-aand is een van die klub se fondsinsamelingsprojekte en die fondse word gebruik om die gmeenskap te help.
Sy is al vier jaar lank lid van die klub en het ook vir baie lank as sekretaresse gedien. Sy was eers vir byna tien jaar lank die tesourier van Friends of Sterkfontein wat ook ‘n Rotariër-projek is, voordat sy by die Rotariërs aangesluit het.
Friends of Sterkfontein was ‘n huis waarin mense wat uit Sterkfontein Hospitaal ontslaan is en geen heenkome gehad nie kon gaan bly. Daar was eers twee huise, een vir mans en een vir vroue, maar die huis vir mans is later Munsieville toe verskuif, maar bestaan nie meer nie. Net die een huis in Dan Pienaar het oorgebly.
Gerda-Marie het vertel dat sy by die Rotariërs aangesluit het om te help.
Ons almal help waar ons kan. Dis in ons bloed; dit is wie ons is.”
Haar raad vir Brendan is om sterk te staan en te lewe volgens hul leuse ‘service above self’. Sy het gesê dat dit ‘n voorreg en eer is om as leier erken te word en te besef dat jy ‘n indruk op mense se lewens kan maak. “Om president van ‘n Rotariërklub te wees is net ‘n druppel van dit wat jy kan vermag.”
Brendan wat op 1 Julie by Gerda-Marie oorneem is al van 2018 af by die Rotariërs betrokke maar het eers in 2019 amptelik ‘n lid geword.
Hy het vertel dat daar nog nie een spesifieke projek was wat al sy aandag verg nie en dat almal vir hom ewe belangrik is. “Want hulle het almal een doel en dit is om iemand te help. Ons probeer ook om bewustheid te skep oor die nood in die gemeenskap en om soveel mense as moontlik te bereik en te help as wat ons kan.”
Hy beplan om tydens sy termyn as president die ledetal uit te brei en om veral vir jonger mense te wys dat elkeen ‘n bydrae en verskil kan maak, maak nie saak of dit groot of klein is nie.
Elke mens het ‘n begeerte in sy hart om ‘n verskil te maak. Die Rotariërs gee jou die gereedskap en ondersteuning om werklik die verskil te maak wat jy wil sien.”
