Agt wenke om verdrinking te voorkom
'n Plaaslike swemskooleienaar waarsku teen die gevare van water en deel noodsaaklike riglyne om kinders veilig te hou.
Met die swemseisoen wat om die draai is, is waterveiligheid vir kinders van kardinale belang.
• Lees ook: Van skrikkerig wees vir water tot swemsterre
’n Plaaslike swemskool het op 23 September verskeie kleuterskole in die dorp besoek om kleuters in te lig oor waterveiligheid.
Swemskooleienaar Karien Botha en hul gelukbringer, Octo, het klem gelê op agt belangrike veiligheidswenke:
• Moet nooit alleen na ’n swembad gaan nie
• Kinders moet altyd onder toesig van ’n volwassene rondom water wees
• Wanneer jy in ’n swembad klim, hou altyd aan die rand vas om te verhoed dat jy gly
• Moet nooit in ’n swembad spring sonder om eers te sien waar die diep- en vlakkant is nie
• Moet nooit aan iemand vashou wanneer jy in ’n swembad speel of bang is nie
• Moet nooit probeer om iemand wat verdrink in die swembad, te red deur self in die water te spring nie. Hulle kan jou aangryp en ook aftrek. Lê eerder op jou maag langs die rand van die swembad en gebruik klere of ’n langwerpige voorwerp om hulle na die rand toe te trek
• Indien jy uitgeput of paniekerig raak in die swembad, rol op jou rug in die dryfposisie en skop liggies totdat jy by ’n veilige plek is
• Indien jy moeg is, klim uit die swembad en rus
Karien het genoem dat daar ongeveer 600 verdrinkings per jaar plaasvind en het beklemtoon dat verdrinkings stil is. Sy sê dat as kinders en ouers hierdie wenke volg, hulle werk gedoen is.
