Local news

Van skrikkerig wees vir water tot swemsterre

Leerders met spesiale behoeftes toon ongelooflike vordering in swemprogram wat veiligheid, spierontwikkeling en selfvertroue bou.

Maande nadat Wesrandse Skool hande gevat het met ’n plaaslike swemskool, is hul swembad nou byna 100% gereed om leerders die lewensreddende vaardigheid van swem aan te leer en op te skerp.

• Lees ook: Sukses! Wesrandse Skool spog met opgeknapte swembad

Karien Botha, organiseerder van die projek, sê dat daar reeds 240 leerders aan die program deelgeneem het gedurende die eerste twee kwartale sedert die swemlesse begin het.

“Ons bied die lesse elke Dinsdag en Donderdag aan vir agt weke per kwartaal. Die fokus val op veiligheid in en om water, asemhalingstegnieke, en een van die belangrikste aspekte – spierontwikkeling,” het sy verduidelik.

Volgens haar word elke leerder tydens hul eerste klas geëvalueer. “Ons doen ’n assessering, bekom mediese agtergrondinligting en werk dan ’n persoonlike plan vir elke leerder uit,” sê sy.

Die leerders geniet die lesse vreeslik baie. Party was aanvanklik onseker en effens bang, maar teen die einde van die les moet ons sukkel om hulle uit die water te kry,” vertel sy met ’n lag.

Sy voeg by dat die leerders dikwels verbaas is oor hoe vinnig hulle aanpas en nuwe vaardighede aanleer.

“Hulle het altyd ’n breë glimlag, is vol energie en gee hul alles. Vir al die afrigters is dit ’n nederige en inspirerende ervaring.”

Richard Seanyane en Nadine van Eeden leer ‘n leerder hoe om iemand te help wat ‘verdrink’.

Om hierdie noodsaaklike vaardigheid aan die leerders te bied, het die gemeenskap ruim bygedra om die droom ’n werklikheid te maak. Botha vertel dat nuwe verhitte pompe geïnstalleer is, elektriese werk gedoen is, en die badkamers opgeknap is.

“Al wat ons nog benodig, is agt verwarmers vir die swembadarea, gange en badkamers. Die leerders het dikwels lae spierdefinisie weens hul gestremdhede en kry dus vinnig koud. Die verwarmers sal verseker dat hulle gemaklik is, veral in die koue maande,” sê sy.

Sy sluit af deur die gemeenskap te vra om hul harte oop te maak en donasies te oorweeg.

Ons benodig steeds die verwarmers en R250 per leerder vir die agtweekkursus.”

As jy wil bydra tot die laaste bietjie toerusting en fondse, kontak gerus vir Karien by 082 964 2125.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Krugersdorp News in Google News and Top Stories.

Back to top button