Die dorp sink in die riool – raadslid in K’dorp-Wes
Inwoners gaan gebuk onder die aaklige reuk in Krugersdorp-Wes weens riool wat in die kanaal invloei.

Die laaste ding wat inwoners in hul woonbuurt wil hê, is ‘n riool walm wat rondhang. Ongelukkig is dit ‘n nare en gereelde ervaring vir die Krugersdorp-Wes gemeenskap.
• Lees ook: Iets lek … ‘n paar rioolpype waarvan jy moet weet
Raadslid Trudie Naudé sê om die kanaal by die Schoemanstraat-brug is daar twee reuse rioollekke wat suiwer riool in die kanaal laat invloei.
Die dorp sink in die riool en die gemeenskap kan nie daarmee saamleef nie.
“Daar is selfs inwoners wat siek word vanweë al die riool in die area en ek het groot kommer oor watter gesondheidskwessies dit inhou,” het sy verduidelik.
“Die pyp is verstop wat hierdie rioolkrisis veroorsaak. Die munisipaliteit het reeds vragmotors gestuur om dit te ontblok, maar het geen geluk gehad nie,” het sy bygevoeg.

Inwoners het ook hul kommer oor die rioolprobleem uitgespreek.
CJ van Rooyen en Braam Gagiano het gesê dat die riool al sedert 20 November in die kanaal vloei en dat dit vreeslik stink.
Dit is ondraaglik om mee saam te leef,” het hulle gesê.
Johan Pottas woon ‘n paar honderd meter van die riool, en het gesê dit is jammer dat die riool in die kanaal vloei.
“Dis 400m van my huis af na die plek waar dit lek. Ons munisipaliteit gee nie om vir ons nie. Ons president en ministers doen niks aan die kwessie nie en nie eers die departement van gesondheid nie,” het hy bekommerd gesê.
“Ons kan nie eers ons vensters oopmaak nie, die reuk is so erg. Ek voel baie jammer vir die mense naby dit, want hulle ruik dit erger. Die burgemeester moet begin uit sy kantoor stap en kom kyk wat aangaan en begin aandag gee aan die instandhouding,” het hy bygevoeg.
Na aanleiding van die talle klagtes het die Krugersdorp News na Mogale City Plaaslike Munisipaliteit (MCLM) uitgereik om uit te vind hoekom dit so lank neem om die probleem op te los.
Teen druktyd het MCLM geen kommentaar oor die saak gelewer. Hul antwoord sal gepubliseer word sodra dit ontvang is.