Municipal

Naalde, rommel en vrees

’n Luipaardsvlei-inwoner het ’n toegegroeide veld by die munisipaliteit aangemeld, wat volgens hom veiligheidsrisiko’s vir die gemeenskap inhou.

‘n Toegegroeide veld in die Luipaarsdvlei-woonbuurt kan maklik bydra tot kriminele aktiwiteite, en dit is presies waarvoor inwoners hul kommer uitspreek.

Plaaslike inwoner Gerhard Reid is bekommerd oor ’n veld op die hoek van York- en Francisstraat, waar plante meters hoog groei. Volgens Reid is dit ’n ideale skuilplek vir haweloses, waar dwelms gebruik en misbruik word. Hy sê onwettige rommelstorting is ook ’n ernstige probleem.

“Hierdie veld is ’n groot gevaar vir almal wat in die onmiddellike omgewing woon, veral bejaardes en kinders, veral wanneer dit donker word,” het Reid gesê.

Reid beweer hy het die probleem al verskeie kere by die munisipaliteit aangemeld, maar sonder enige sukses.

Naalde en rommel stel inwoners in gevaar

“Dit is gevaarlik. Daar is oral naalde en gebreekte glasbottels. Kinders kan per ongeluk in die veld beland en seerkry. Enige iemand kan hier beseer word,” het hy bygevoeg.

Volgens Reid is die veld al vir jare ’n probleem vir omliggende inwoners, en sedert 2020 sou haweloses gereeld daar moeilikheid veroorsaak.

“Dit is ’n groot probleem. Niemand kan sien wat daar aangaan nie. Mense kan agter die bosse wegkruip en probleme veroorsaak. Dit is ’n rooi vlag. Ek is bekommerd oor my pa en suster se veiligheid. As niemand iets hieraan doen nie, kan dit chaoties raak,” het hy gesê.

Reid glo dat indien die munisipaliteit die veld behoorlik sny en onderhou, baie van die probleme en vrese aangespreek sal word.

Die toegegroeide veld.

Munisipaliteit belowe optrede

Die News het navrae gerig aan Mogale City Local Municipality (MCLM). Hul assistentbestuurder vir media en openbare betrekkinge, Refilwe Mahlangu, het bevestig dat die munisipaliteit wel bewus is van die veld en dat dit deur beide gemeenskapslede en munisipale werknemers aangemeld is.

Sy het verduidelik dat die veld laas gesny is tydens die vorige seisoenale grassnysiklus, maar dat aanhoudende reën laat verlede jaar vinnige plantegroei veroorsaak het.

“Die munisipaliteit volg ’n grassny- en oopruimte-instandhoudingskedule wat areas prioritiseer volgens veiligheid, openbare gebruik en beskikbare hulpbronne. Om tred te hou met die hoë operasionele aanvraag oor verskeie hoëprioriteitsterreine terwyl daar verseker word dat alle areas billik gedek word, moet Parkebestuur dus by die goedgekeurde skedule hou en kan dus nie grassny herhaal in areas wat reeds gedurende die huidige siklus voltooi is nie,” het sy vertel.

Sy noem dat die veld weer gesny gaan word in die volgende siklus, en hul verwag dat dit binne die volgende vier weke gaan wees, tensy enige onvoorsiene struikelblokke opduik.

Met betrekking tot Reid se bekomernisse oor misdaad, neem MCLM kennis van dit, en Mahlangu noem dat dit geëskileer sal word na Gemeenskapsveiligheid vir geïntegreerde monitering.

Sy vertel verder dat onwettige storting bly ’n aanhoudende uitdaging in verskeie woonbuurte.

“Parkebestuur het geïsoleerde voorvalle van rommelstrooiing en storting op die veld opgemerk waaraan ons afvalbestuurspanne aandag gegee het as deel van voortgesette skoonmaakoperasies. Die munisipaliteit doen ’n beroep op inwoners om voort te gaan om onwettige storting aan te meld en te help om oortreders te identifiseer, aangesien dit ’n gemeenskapswye probleem is wat gedeelde verantwoordelikheid vereis.”

“Ons bly verbind tot die handhawing van skoon, veilige en toeganklike openbare ruimtes. Ons waardeer die gemeenskap se waaksaamheid en moedig voortgesette rapportering deur ons amptelike kanale aan. Parkebestuur het ook ’n maandelikse grassnyskedule ontwikkel, wat met wyksraadslede gedeel word vir verdere kommunikasie met hul kiesafdelings. Laastens, om te help met navrae soos hierdie, wat blykbaar kliëntenavrae is, moet inwoners aangemelde navrae deur wyksraadslede of die munisipaliteit se kliëntekontakplatforms eskaleer om te verseker dat die navraag bespoedig word,” het sy afgesluit.

Die News het ook uitgereik na die Krugersdorp-polisiestasie se bevelvoerder, maar geen kommentaar was ontvang teen die tyd van publikasie nie. Indien kommentaar wel ontvang word, sal dit gepubliseer word.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Krugersdorp News in Google News and Top Stories.

Heinrich Greyling

Heinrich Greyling is a LLB student, which gives him an eye in fairness towards everything he writes about, with a passion of uncovering the truth. If the relevant information is available, he is willing to help anybody, with a keen interest in hard, crime, entertainment, municipal, human interest and automotive journalism. He is a journalist who is willing to write about anything, no matter the controversy or risks involved.
Back to top button