Local news

Feëverhale en blinkers, Madre maak drome waar

'Elke meisie het haar eie droomprentjie en ek doen my bes om by haar prentjie in te pas.' — Madre Botha van Princess for a Day.

Om ‘n prinses te wees moet jy kan glo jy is ‘n prinses.

Elke jaar is daar ‘n vrou wat dit haar missie maak om matriekleerders en bruide die prinseservaring te gee wat hulle verdien. Madre Botha van Princess for a Day is na amper sewe jaar steeds besig om feëverhaaldrome te laat waar word.

Sy het nog altyd geglo dat elke meisie en vrou, maak nie saak wat hul omstandighede is nie, en al is dit net vir een aand, soos ‘n prinses moet voel.

Vir die afgelope paar jaar help Madre meisies, seuns en vroue om die perfekte uitrusting te kry vir hulle spesiale dag. Dit is danksy die gemeenskap wat hul gebruikte rokke, pakke, skoene en bykomstighede skenk, en dan leen sy dit vir die mense wat dit nodig het.

Een van die stories wat haar na aan die hart lê is van ‘n meisie van Soweto wat graag na haar matriekafskeid wou gaan maar haar ouers was werkloos.

“Maar sy was vasbeslote om te gaan en sy het op ‘n Saterdagoggend drie taxi’s gehaal om ‘n rok te kom kies vir die aand. Sy het weer drie taxi’s terug gehaal maar sy het haar droomrok gekry asook alles anders wat sy nodig gehad het om haar soos ‘n prinses te laat lyk.”

Dit gaan vir Madre oor baie meer as ‘n matriekafskeid. Sy het vertel dat dit met die styging in lewenskoste moeiliker word om elke meisie se droom te laat waar word, daarom probeer sy dit doen met wat tot haar beskikking is.

Ek doen dit uit liefde en weet ek maak ‘n klein verskil. Om ‘n meisie te sien glimlag is vir my wonderlik. Dit gee boonop hul selfbeeld ‘n hupstootjie.”

Sy het verduidelik dat hulle baie dankbaar is vir alle donasies want dit is al wat hulle het. Die rokke en modes verander elke jaar en al probeer sy hoe hard is dit nie altyd moontlik om tred te hou met die modes nie. Die groottes van die vroue-uitrustings wissel van 26 tot 50, en die groottes van die manspakke wissel van 32 tot 50.

“Elke meisie het haar eie droomprentjie en ek doen my bes om by haar prentjie in te pas.”

Madre werk vir die Cradle of Hope in Krugersdorp-Wes en die organisasie het tans 15 aktiewe projekte aan die gang. Hulle maak kospakkies op, deel daagliks kos en klere uit, daar is ‘n noodveiligheidshuis vir vroue, en hulle ondersteun twee kleuterskole, om maar net ‘n paar van hul projekte te noem. Hulle doen alles sonder enige staatsbefondsing.

Madre se raad aan ander vroue en veral jong meisies is om op God te vertrou en in jouself te glo.

Daar is niks wat te groot is vir God nie. Daar is altyd iemand wat bereid is om te help of te luister. Be the difference.”

Indien jy graag wil help om ‘n prinsesdroom te laat bewaarheid, kan jy enige donasies afgee by die Cradle of Hope, Stegmanstraat 106, Krugersdorp-Wes of reël dat die donasies oplaai word. Indien jy Madre se hulp nodig het, maak ‘n afspraak met haar deur WhatsApp by 078 676 9760, of skakel die kantoor by 076 262 0452. Daar kan ook ‘n epos gestuur word na www.thecradleofhope.org.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Krugersdorp News in Google News and Top Stories.

Clinton Botha

For more than 4 and a half years, Clinton Botha was a journalist at Roodepoort Record. His articles were regularly published in the Northside Chronicle now known as the Roodepoort Northsider. Clinton is also the editor of Randfontein Herald since July 2020. As a sports fanatic he wormed his way into various "beats - as the media would know it - and admits openly that his big love always have something to do with a scoreboard, crowds and usually a ball that hops.
Back to top button