Geliefde moeder vir haweloses sterf
Elizabeth Swanepoel bekend as Moeder was 'n ma vir almal in Krugersdorp, veral vir haweloses. Haar lewe is onlangs kortgeknip.
Die woord ‘moeder’ laat mens dink aan ‘n ma, ‘n versorger, iemand wat alles vir haar kinders sal doen. Dit is wat Elizabeth Swanepoel, bekend as Moeder, vir die haweloses van Krugersdorp was, want sy was ‘n ma vir almal.
Moeder is op Sondag, 14 Augustus oorlede. Sy laat nie net ‘n leemte in die harte van haar familie en vriende nie maar ook in die harte van die duisende mense wat sy gehelp het, en haar gemeenskap.
Moeder se verhaal begin in Krugersdorp waar sy grootgeword het. Sy het haar man Louis Swanepoel 32 jaar gelede ontmoet en saam het hulle een seun, Jannie gehad.
Louis het vertel dat sy haar lewe lank ‘n omgeemens was met ‘n passie om ander te help. Sy het ‘n ruk lank ‘n winkeltjie gehad en wanneer sy hoor van iemand wat sukkel sou sy uit die winkelvoorraad vir hulle ‘n kospakkie bymekaarsit en vir hulle neem.
Sy het altyd gesê sy doen dit nie om naam te maak nie; sy doen dit omdat sy omgee.”
Nadat sy die winkeltjie gesluit het, het sy voltyds op liefdadigheidswerk begin fokus. Haar organisasie ‘Hulp vir jou Medemens! Moeder’ is net so bekend soos haar rooi bakkie. Op Sondae het Moeder vroeg opgestaan en kos gemaak vir die haweloses. Sy het dan in haar Rooi Gevaar, soos die bakkie bekend is, geklim en vir tussen 700 en 1 000 mense op straat kos uitgedeel.
“Sy het geglo sy maak kos wat sy self sou eet, dus moes die kos lekker wees.”
Behalwe vir mae volmaak het sy ook saam met ander organisasies gewerk, vir begrafnisse betaal wanneer families dit nie kon bekostig nie, en sy het klere, komberse en skuiling gereël vir dié wat dit nodig gehad het. Daar was niks waarmee Moeder nie sou help nie. News-joernalis Natasha Pretorius onthou haar as iemand wat hand en tand vir die straatmense geveg het; wat saam met hulle op die sypaadjie gesit en eet het; en vir ure na elke storie sou luister.
Jannie en sy vrou Irene het vertel dat haar twee kleinkinders, Nathan en Brian die absolute lig in haar lewe was.
Moeder het ‘n maand gelede begin siek word en na vele operasies het dinge beter gelyk en is sy huis toe. Saterdagaand het sy saam met haar familie gekuier en Jannie het haar Sondagoggend aangetref nadat sy in haar slaap oorlede is.
Sy is die derde van vier kinders en haar ma, Cupie de Beer het vertel dat mense altyd kom kuier het en gesê het ‘ag moeder’ as hulle haar sien. Van daar het haar twee broers haar ‘moeder’ begin noem en deur die jare het sy die naam behou. Die familie het vertel dat daar so baie dinge is wat hulle van haar sal onthou, onder andere hoe sy eendag ‘n bees gevang het wat by die veiling ontsnap het; hoe sy ‘n trok met haar bakkie weggesleep het; en hoe sy saam met haar kleinkinders in die erf gedans het.
Irene het vertel dat Moeder graag sou wou hê sy moet aangaan met die liefdadigheidswerk en al weet sy sy sal nie haar skoene kan volstaan nie gaan sy haar beste gee.
Moeder is op Vrydag, 19 Augustus vanuit die NG Suiderlig-gemeente in Krugersdorp-Wes begrawe. Sy word oorleef deur haar ouers, haar man, haar seun en dogter, en twee kleinkinders.
