Plaaslike kroeg het ‘n sagte plek vir kinders
Deur die jare het die span van Mac Merv's Pub bewys dat hulle harte vir die gemeenskap klop. Hulle het onlangs weer met die gemeenskap kragte saamgesnoer om 'n skooltjie te help.
Op Saterdag, 20 Augustus het 13 kunstenaars by Mac Merv’s Pub opgetree waar kos, klere en meer vir die Villa Gloria-kleuterskool ingesamel is.
Wilma Lock, die kleuterskoolhoof het vertel dat hulle hope doeke, speelgoed, kos en klere asook ‘n kontantdonasie van R1 200 ontvang het.
Elke bietjie maak vir ons ‘n verskil,” het sy gesê.
Anne-Marie van der Merwe van Mac Merv’s Pub het bygevoeg dat hulle gereeld by sulke fondsinsamelings betrokke raak omdat hulle ‘n sagte plekkie het vir kinders en bejaardes. Hulle beskou die dag as ‘n sukses omdat so baie mense hul harte oopgemaak het.
Hulle doen ook al vir die afgelope vier jaar in Desember fondsinsamelings vir die WAS Foundation om hulle te help met donasies. Dit was die Saterdag juis vir haar opvallend hoe graag die gemeenskap wil help.

Die skool sien om na kinders wat uit minderbevoorregte families kom en fondse is maar skaars omdat sommige ouers nie die skoolfonds kan bybring nie. Tans kom daar 28 leerders en vyf naskoolleerders na hulle toe. Hul leerders is tussen een en ses jaar oud.
Lock het vertel dat hulle ook graag hul skool wil opknap en dat hulle verf nodig het om die skooltjie mooi te maak. Hulle wil ‘n heining om die skool aanbring, hulle het ‘n skootrekenaar nodig vir administrasie, maar hul grootste behoefte is tans ‘n yskas.
Indien jy ook graag die skool wil ondersteun, skakel vir Wilma Lock by 071 856 6150 of Deon Bresler by 078 655 1716.
