TRAMUS Jeugkoor hou reünie
Hul wêrelde mag dalk verskil, maar vir byna 50 jaar was koorsang hul grootste gelykmaker.
Alhoewel hulle in verskillende ritmes leef, sal die oudlede van die destydse Transvaalse Jeugkoor – ook bekend as die TRAMUS Jeugkoor – altyd sinkroniseer in mekaar se teenwoordigheid.
Na byna 50 jaar se bestaan en 10 jaar sedert hul laaste reünie, hoop twee passievolle oudkoorlede om dié koor weer ‘n keer te herenig.
“Die storie het begin in die tyd van die goue kultuurera in Suid-Afrika. Dit was ‘n tyd van pragtige operas met besondere dekor en kostuums. Ook was die simfonieorkeste volop,” het Sopraan, Anine van der Walt vertel.
“Die Transvaalse Jeugkoor het in 1973 ontstaan uit die destydse Witwatersrandse Jeugkoor. Van oraloor het hierdie klomp tieners gekom. Van so ver as die Oos-Rand, Nylstroom, Potchefstroom en die Vaal Driekhoek.”
Volgens Tenoor, Corrie Niemann moes elke koorlid eers streng oudisies deurmaak om deel te wees van die gesogte TRAMUS Jeugkoor. Die keuringsproses was beman deur niemand anders as hul besondere koormeester, dr Pieter Roos wat uiteindelik daarin geslaag het om ‘n uitmuntende koor te ontwikkel.

Anine vertel met groot bewondering hoe Oom Pieter dié ywerige groep van 60 tieners geïnspireer het om in agt stemme te sing. Die gemiddelde koor bestaan gewoonlik uit vier stemme – sopraan, alt, tenoor en bas. Alhoewel hy reeds in 2010 oorlede is, word sy baanbreker-bydrae vandag nog in die koorwêreld geprys.

Dit kom dus as geen verrassing dat die jeugkoor hul land telkemale op internasionale bodem verteenwoordig het nie. Die tieners het die geleentheid gehad om kragte te meet in België, Brittanje, Frankryk, Italië, Griekeland, Israel en Oostenryk om net ‘n paar te noem. Hulle moes ook uitdagende koorstukke leer sing in tale soos Latyn, Frans, Italiaans, Duits en Hebreeus.
“So het ons koor van krag tot krag gegroei. Vele mans en dames het in Suid-Afrika asook oorsee gaan sang studeer. Ander het musiek begin maak in die Suid-Afrikaanse musiekbedryf soos André Schwartz, Innes Benade en Christine Wolmerans,” het Anine vertel.
“Nou is ons by ons volgende fase van ons koor – 10 jaar sedert ons laaste optrede saam. Dis waarom ons opgewonde is om weer ‘n reünie te hou. Ons gaan weer, in ons ‘gryse’ jeug, ‘n kooruitvoering gee. Dit beloof om ‘n besondere geleentheid te wees. Ons ken mekaar immers amper 50 jaar.”
Vir die groep is hul medelede se status en beroep van min belang. Al bestaan die koorgroep uit magistrate, advokate, tandartse, onderwysers, beleggingbestuurders en predikante om net ‘n paar te noem, is hul slegs ‘n stem wanneer dit by die koor kom.
Corrie en Anine is dus opgewonde om die oud-TRAMUS jeugkoorlede te nooi vir ‘n opwindende reünie wat op die naweek van 5 en 6 November sal plaasvind. Die groep sal na verwagting Saterdag oefen en Sondag by die NG Kerk Horison-Noord om 09:00 optree.
Die gemeenskap word ook uitgenooi om dié spesiale reünie by te woon en die uitmuntende optrede te beleef. Enige iemand wat meer wil weet kan vir Corrie op 083 288 7588 of vir Mellie op 083 226 2096 kontak.
