Monnas nooi maak TV verskyning in kunsprogram
"Ek het dit ongelooflike baie geniet. Die hele ervaring het my laat besef dat daar soveel moontlikhede met kuns is."
Tussen die vier mure van haar slaapkamer word die 14-jarige Isabella van der Walt meegesloer na haar eie droomwêreld vol kleure en kreatiewe kontraste. Dit is hier waar sy in haar eie spasie geinspireer word; waar haar vingers oorgee aan die podlood in haar hand en waar die gedagtes wat sy koester lewend op papier uitgebeeld word.

Isabella, of Bellie soos haar vriende en familie haar noem, is ‘n leerder van Hoërskool Monument en het duidelik ‘n enorme talent wanneer dit by teken en verf kom. As jong kind het sy begin teken, maar dis eers toe sy kunsklasse begin neem het waar haar talent baie mooi begin ontwikkel het.

Sy is so talentvol dat Nadine Vosloo, die meesterbrein agter die gewilde krytverf produk Tjhoko Paint van Paint Master besluit het om Bellie as kunstenaar te nooi op haar nuwe TV program Plan van Aksie op die DStv-kanaal Via.

In Plan Van Aksie help aanbieders Nadine en Hamilton ‘Hammie’ Wessels iemand om ’n spasie in hul huis nuwe lewe te gee. Al die tegnieke is selfdoen. Nadine sorg vir die kreatiewe deel van die program terwyl Hammie haar op haar tone hou met sy humorsin en lafheid. Saam maak hulle ‘n wenspan.
Op die derde episode van die reeks, wat op 27 Oktober uitgesaai was, moes Nadine egter Bellie se hulp inroep toe Ansunel de la Rey se ou kantoor omskep was in ‘n slaapkamer en kuierkol vir haar tienerseun. Bellie het ‘n unieke kunswerk vir die seun se kamer ge-decoupage en ook geteken.
“Ek het dit ongelooflike baie geniet. Die hele ervaring het my laat besef dat daar soveel moontlikhede met kuns is,” het Bellie vertel. Die top 10 graad 8-leerder noem dat kuns en teken haar gunsteling tydverdryf is.
“Wanneer my gedagtes dwaal is dit asof ek na ‘n ander wêreld vervoer word. Ek sit my oorfone aan, begin teken en skets en verloor myself in die proses.”
Bellie is verskriklik lief daarvoor om portret prente en foto’s te teken en hou daarvan om spesifiek op die oë van die prentjie wat sy teken te fokus. Sy vertel dat wanneer sy dit teken, is die proses baie maklik en kom van nature na haar toe.
“Die oë het soms baie meer detailering nodig. Wanneer ek sien dat ander kunstenaars oë teken en sukkel, kan ek dit nie altyd verstaan nie want vir my is dit eintlik so maklik en moeiteloos,” het sy laggend vertel.
Sy wil beslis eendag as kunstenaar lewe, maar is nog nie seker in watse kapasiteit nie, gelukkig is daar nog baie tyd om daaroor te besluit.
“Ek geniet kuns regtig baie en sien daarna uit om dit in graad 10 as vak te neem.”
Plan van Aksie is te sien op Via, DStv-kanaal 147 om 17:00 elke Donderdag. Dit is ook op Catch Up beskikbaar.
