Babas doen dit vir Kansa
Ten spyte daarvan dat Covid-19 vir die afgelope twee jaar 'n stokkie voor die geleentheid gesteek het, meen Piet dat vanjaar hul grootste kompetisie nog was.
Daar was ‘n lieflike see van klein gesiggies by El Cupid Eiendomme se langverwagte 13de babakompetisie op Saterdag, 5 November.


Dié welbekende kompetisie word jaarliks gehou om broodnodige fondse vir Kansa in te samel. Alhoewel die geleentheid nog elke jaar by El Cupid in Beginstraat plaasgevind het, was dit vir die eerste keer by die Key West Winkelsentrum se amfiteater aangebied.


“Ons het jare gelede die behoefte geïdentifiseer, aangesien daar baie min of geen fondsinsamelingsprojekte vir Cansa in die Wes-Rand was nie. Ons het besef dat ‘n babakompetisie die ideale geleentheid sou wees om nie net die gemeenskap te betrek nie, maar ook om terug te kan ploeg in die gemeenskap,” het El Cupid se Piet Pretorius vertel.
Ten spyte daarvan dat Covid-19 vir die afgelope twee jaar ‘n stokkie voor die geleentheid gesteek het, meen Piet dat vanjaar hul grootste kompetisie nog was.


Met pragtige sonskynweer na ‘n week se reënval was daar minstens 250 bywoners teenwoordig om die geleentheid te ondersteun. Volgens Piet en sy El Cupid-span het hul ‘n rekordgetal van 109 inskrywings ontvang.


Daar was vier kategorieë waaraan die kleintjies kon deelneem, naamlik 0-1 jaar, 1-2 jaar, 2-3 en ‘n half jaar en 3 en ‘n half jaar tot 5 jaar. Die laaste kategorie is egter ‘n nuwe toevoeging tot die kompetisie waarin kleuters die beoordelaars en toeskouers met hul talente moes vermaak om die titels van Mnr en Mej El Cupid Junior te verwerf.
Die wenner van elke kategorie is soos volg:
• 0-1 jaar: Ewandrú Kamffer
• 1-2 jaar: Jeanlu Cloete
• 2-3 en ‘n half jaar: Amoré Uren
• 3 en ‘n half jaar tot 5 jaar (Mej El Cupid Junior): Deoné Uren
• 3 en ‘n half jaar tot 5 jaar (Mnr El Cupid Junior): Xavier Smalman
Die vriendelikste van elke kategorie is soos volg:
• 0-1 jaar: Corbyn Burger
• 1-2 jaar: Bailey Kgobe
• 2-3 en ‘n half jaar: Morgan Campbell
• 3 en ‘n half jaar tot 5 jaar (Dogter): Miané Barnard
• 3 en ‘n half jaar tot 5 jaar (Seun): Likuwe Pateni
Nodeloos om te sê het bywoners die geleentheid met groot entoesiasme en oorgawe ontvang.
“Ons wil graag die beoordelaars bedank asook die gulhartige borge: Betterbond, Bondgallery, Ooba Wesrand, Heidtmann en Du Preez Prokureurs, El Cupid Eiendomme agente, Leana Posyn Hair Stylist, The Sound Desk, Monjefique Fotografie, Just Print, Key West Winkelsentrum en The Web Bug,” het Piet ten slotte vertel.
“Daar was uitstekende pryse in al die kategorieë, verskeie gelukkige trekking pryse en die bedrag van R10 300 is vir Kansa ingesamel. Ons was ook baie trots dat Ester Pretorius as een van die beoordelaars opgetree het. Baie dankie aan almal wat bygedra het tot die sukses van die geleentheid.”
