Sterstatus na aan Karin se hart
Mev Wesrand Karin Muller het onlangs met drie Sterstatus-titels weggeloop.
Karin Muller, Mev Wesrand 2022 het ‘n besige jaar agter waar sy sommer ook ‘n paar titels ingepalm het. Sy het onlangs met drie titels weggeloop nadat sy aan seisoen 4 van Sterstatus deelgeneem het.
Sy is aangewys as die eerste prinses in die liefdadigheidskategorie en het die publieke keuse asook beste verkope toekennings gekry. Maar sy sê dat “Karin maar net Karin is, en wat jy sien is wat jy kry”. Sy is ‘n reguit mens wat lief is vir die lewe en wie valsheid, oneerlikheid en onregverdigheid nie kan verdra nie.
Karin is met haar skoolliefde, Johnny Muller getroud en saam het hulle ‘n 15-jarige seun, sy noem die twee haar steunpilare en dryfkrag. Sy is ook die eienaar van ‘n landboubesigheid en dien op Hoërskool Bastion se beheerliggaam. Haar Sterstatus-pad het begin nadat sy aangewys is as Mev Wesrand vroeër die jaar, en toe genooi is om aan die kompetisie deel te neem. Sy beskryf Sterstatus as ‘n leerskool waar sy haarself uitgedaag het.
“Ek het die mees dinamiese vroue ontmoet by wie ek ongelooflik baie geleer het.”
Al was daar moeiliker tye het Karin nooit tou opgegooi nie en deur die proses geleer dat sy tot baie meer instaat is as wat sy ooit gedink het.
“Sterstatus gee die woord vrouebemagtiging ‘n nuwe betekenis – ‘n nuwe baadjie. Jy raak meer bewus van jou sterk punte en jy identifiseer jou eie vrese en aspekte waarin jy dalk onseker was oor jouself. Sterstatus bemagtig jou om te ontwikkel en die ware jy uit te bring.”
Liefdadigheid is haar passie en tydens die kompetisie moes hulle verskeie projekte aanpak. Die familiedag wat sy saam met twee ander finaliste aangebied het om geld in te samel, was ook op TV uitgesaai.
Tydens die kompetisie is die publiek die geleentheid gegee om vir hulle gunsteling top 20 finalist te stem en dit is hoe sy die ‘publieke keuse’ toekenning gewen het.
Een van die kompetisie se uitdagings was ‘n kortfilm idee, en elke finalis moes met ‘n idee vir dit opkom. Karin se idee is toe gekies en saam het die vroue en die span is die kortfilm Soms is hoop jou enigste keuse gemaak. Die film sal op 1 Desember by Shirley’s in Benoni te siene wees en die publiek is welkom om te gaan kyk hoe die Sterstatus vroue Karin se droom ‘n realiteit gemaak het.
So wat is volgende vir die dinamiese vrou? Sy het vertel dat sy steeds ‘n verantwoordelikheid teenoor haar gemeenskap as Mev Wesrand dra en dat daar nog ‘n besige program voorlê voordat die nuwe wenners in Februarie 2023 aangewys word.
Daar is ook verskeie Sterstatus-liefdadigheidsprojekte waarby sy betrokke wil wees en sy is die ambassadeur vir Matla-A-Bana, Maria’s Angels Foundation en Arms of Mercy.
“Dit is organisasies wat my baie na aan die hart lê en ek sal beslis voortgaan om hulle te ondersteun na die beste van my vermoë.”
Vir haar beteken die woord liefdadigheid om onbaatsugtig van jouself, jou tyd en jou liefde te gee om iemand anders se omstandighede te verbeter. Wanneer dit kom by die Sterstatus titel, vertel Karin dat sy nie hartseer is dat sy hom nie gewen het nie maar dat sy klaar ‘n wenner is net omdat sy daar was.
“Ek het nie tou opgegooi nie. Wat ek geleer het gedurende my reis is van onskatbare waarde, ek het gewen. Ons twee algehele wenners is fenomenale vroue. Beide Jade Farrell en Leigh-Ann Fourie is vroue na wie ek opkyk, van wie ek geweldig baie geleer het, waarlik waardige wenners.”

