Nie net Beach Buggies en braai nie
Vir die West Rand Beach Buggie Klub gaan dit nie net oor 'buggies' en braai nie maar elke jaar maak hulle ook hulle groot harte oop om die gemeenskap te help.
Vir die West Rand Beach Buggy Klub gaan dit nie net oor duinebesies en braai nie. Dit is vir hulle ook belangrik om elke jaar hul groot harte teenoor die gemeenskap oop te maak en ondersteuning aan te bied waar nodig.
Lees ook: Family fun for all at Starfish Greathearts’ Picnic for charity
Vanjaar het hulle besluit om ‘n handjie by te sit om die Bejaarde Hulp Stigting te help om minderbevoorregtes se feesseisoen ‘n geseënde een te maak.
Riana Botha het die Bejaarde Hulp Stigting so bietjie meer as ‘n jaar gelede op die been gebring en het reeds meer as 120 mense wat sy uithelp met kospakkies. Sy gee ook vir hulle Kers- en verjaarsdaggeskenke. Hierdie jaar doen sy alles uit haar eie sak en het vertel dat sy gewoonlik op donasies staatmaak want vanjaar se donasies was maar min.

Vir die rede sou Kersfees maar blouerig gewees het, dit was tot dat die liefhebbers van duinebesies ingespring het. Hulle het vir Riana gevra watter winkel sy verkies en op Saterdag, 10 Desember het hulle by Kleinvallei vir haar ‘n President Hyper-koopbewys ter waarde van R10 000 oorhandig.
Lees ook: Charity Golf Day of epic proportions for Fora, Dempsey Foundation
Johan Wolmarans van die klub het vertel dat hulle gereeld aksies hou waar hulle terug gee, hierdie jaar het hulle te hore gekom van Riana en die werk wat sy doen en besluit dat sy die regte keuse vir hulle is.
“Ons weet dit is net ‘n klein druppel in die emmer maar elke bietjie help,” het hy bygevoeg.

Hulle het Kleinvallei besoek met 13 van hul helderkleurige ‘buggies’ waar Riana vir die mense daar Kerspakkies uitgedeel het en die klub ook die koopbewyse aan haar oorhandig het. Van daar het hulle hul ‘buggies’ bietjie vuil gaan maak op ‘n 4×4 baan om hul jaarafsluiting te hou.
“Dit is vir ons ‘n voorreg om as groep iets te gee en dit maak ons gelukkig om te kan sien waar ons ‘n verskil kan maak,” het Johan gesê.
Hy wou graag al die Buggers bedank vir hul ruimhartigheid en het gesê dat dit lekker is om deel te wees van so ‘n groep. Hy het ook sy dank aan Tic Printing uitgespreek vir die borg van die tjek.
Riana het altyd donasies nodig en sê dat kos altyd welkom is. Indien jy belangstel om haar en haar organisasie by te staan kan jy haar skakel op 084 915 4173. Besoek gerus die West Rand Beach Buggy Facebook-blad of die Bejaarde Hulp Stigting NPC Facebook-blad.
