Local news

‘Te min Karoo trips’ – Sampie lewe voluit

Sampie Blom, 'n oud-Monumentaar glo daarin om jou passies uit te leef en net jouself te wees. Hy het homself onlangs ontdek toe hy op sy eie vir vyf weke deur die Karoo gereis het.

ampie Blom is ‘n mense-mens. Hy hou daarvan om nuwe mense te ontmoet en na hul stories te luister.Hy is ook ‘n man wat glo daarin om jou passies uit te leef en net jouself te wees.

Hy het homself onlangs ontdek toe hy op sy eie vir vyf weke deur die Karoo gereis het.Baie mense in die gemeenskap het al met Sampie te doen gehad op een of ander manier … maar wie is hy dan nou eintlik?

Die News het ‘n bietjie gaan inloer om skouer te skuur saam dié bekende gemeenskapslid.

Hy is gebore in Pretoria, 58 jaar gelede en is die oudste van vyf kinders. Sy pa was ‘n dominee en die familie het so bietjie rond getrek totdat hulle uiteindelik in Krugersdorp kom vestig het.

Soos sy ouers was Sampie ook in Hoërskool Monument en het sy eie kinders ook dié skool bygewoon.Sy pa was ‘n prominente figuur in die dorp en uit die pastorie vertel Sampie dat daar baie staaltjies is.

Hy is juis besig om ‘n boek van pastorie-stories bymekaar te sit en wil dit graag voor sy 60e verjaarsdag bekendstel.Na skool het hy by die polisie aangesluit en was in die veiligheidstak van die polisie se intelligensie afdeling gestasioneer. Vir hom was dit belangrik as intelligensie offisier om te sien dat reg en geregtigheid geskiet ongeag watter kant jou idiologie was.

Hy was vir 14 jaar in die polisie en deesdae staan hy mense by wat hulself laat sekwestreer of hulle maatskappye wil likwideer.

“Jy ontmoet mense wat stukkend is en daar is weer hoop vir hulle. Jy gee hulle die geleentheid om weer op hul voete te kom.”

As kind en jong man het hy graag gehengel. Selfs sy nasionale kleure in die sport gekry en meer as een keer aan wêreldkampioenskappe gaan deelneem. Al het sy passie vir fotografie by die intelligensie eenheid begin, het dit later in sy lewe ‘n stokperdjie geword.

“Die probleem is ‘n ou raak vasgevang in wat die wêreld wil hê en hoe nader my Karoo reis gekom het hoe meer het ek besef, ek moet die reis op my eie doen.”

Een van sy mees bekendste foto’s is getiteld, Munsieville Girl, en hy het internasionale erkenning en toekennings vir die foto ontvang. Sy passie was om straatmense af te neem en hy het dit in die Karoo ook gedoen.

So aan die einde van September 2022 het hy besluit om sy tasse te pak en Karoo toe te gaan, hy het nie ‘n plan gehad nie en ook nie geweet vir hoe lank hy gaan nie. Daar het hy die plaaslike gemeenskap gevra wie hulle gemeenskapsleiers en grappiesmaker is en waar kuier die ‘locals’. Hy het na mense se verhale gelui-ster en selfs vir Fraser Barry, ‘n TV-aanbieder en joernalis bevriend.Vyf jaar gelede het hy toe ook vir Melodie van Brakel, stigter van plaaslike vroue- en kinderhuis Cradle of Hope, ontmoet en besef watter swaarkry daar in die lewe is.

Die ontmoeting het hom aangehits om die Imbali Foundation te stig en vir menseregte te baklei.

Lees ook: Carla slaap, eet en droom kuns

“Dit is maklik om vir iemand ‘n vis te gee om te eet elke dag, maar leer hom ‘n vis vang en selfonderhoudend te raak. Dit is baie belangriker.”

Sy boek sluit aan by sy opvoedinge en hy het vertel as kind was dit betaamlik vir die dominee se kinders om klavierlesse te neem.Sy pa het gesien die lesse is nie vir hom nie en het gevra wat hy wou doen. Daar was egter ‘n vriend van sy pa wat so dan en wan by hulle tyd sou deurbring – Oom Hansie. Hy het geskilder, en die skilderye dan geraam en verkoop om so weer op sy voete te kom.

Lees ook: Vroue raak kunstig saam met bekende skilder

As kind het Sampie by Oom Hansie gesit en geleer van kuns. Hy het eendag sy pa gevra of hy kunsklasse kan neem maar sy pa het nee gesê. In September 2022 het Sampie ‘n epileptiese aanval in Clearwater Mall gekry en moes hy ‘n neuroloog gaan sien. Sy het voorgestel dat hy van alle dinge, klassieke klavier begin speel. Hy het haar vinnig ingelig dat daar geen manier is wat hy dit doen nie.

En so het Sampie ook toe nou kunsklasse in sy volwasse jare begin neem. Hy weet hy gaan nie ‘n Rembrandt of Van Gogh wees nie, maar hy leef sy passies uit en dit is vir hom lekker. Tydens die inperking het hy ook pype [vir rook] begin versamel en restoureer. Hy het met drie begin en vandag spog hy met ‘n versameling. In dieselfde tyd het hy ook navorsing op Youtube begin doen oor koffie – die verskillende tipes en maniere om dit te maak.

Koffie is vir hom belangrik want dit is oor ‘n koppie koffie wat hy soms sit en mense leer ken. Vroeg in 2022 het hy ook besluit om net ‘homself’ te wees. Hy het nog altyd van die hippie leefstyl gehou en het eendag besluit om uit die kas te klim as ‘n hippie. Dit was die laaste keer wat hy sy hare gesny het.

As Sampie vir sy gemeenskap een boodskap kan gee sal dit uit Matteus 28 vers 19 wees: ‘Gaan dan heen, maak dissipels van al die nasies, en doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees; en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het’. Hy glo hy het te min Karoo uitstappies in sy lewe gedoen maar is beslis ‘n voorbeeld vir ander oor hoe om ‘n vol en gelukkige lewe te lei.

Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.
Back to top button