Pierre sit sy ‘kop op ‘n blok’ vir liefdadigheid
Liefdadigheid begin by die huis en Pierre Louw, 'n Mnr Krugersdorp-finalis, hou 'n fondsinsameling vir die 18-jarige Christiaan Smidt wat al van die ouderdom van 6 Cholesteatoom het.
Pierre Louw, ‘n Mnr Krugersdorp-finalis, is so seker dat sy fondsinsamling inisiatief vir ‘n jong man gaan nog baie vrugte pluk, dat hy sy kop op ‘n blok sal sit.
Hy gaan dalk nie letterlik sy kop afkap nie, maar indien hy genoeg geld insamel, sal hy al sy hare afskeer ? iets wat vir hom die rillings gee. Maar, voor hy daardie ‘drastiese’ stap neem, moet hy ook eers vir een dag glad nie praat nie en vir nog ‘n dag glad nie sy oë gebruik nie.

Lees ook: Mnr Krugersdorp ook nou Mr Vaal Pride
Pierre hou daarvan om homself buite sy gemaksone te vat en vertel dat hy selfs vir Valentynsdag ‘n bal vir liefdadigheid gereël het.
Die fondsinsameling word gehou vir die 18-jarige Christiaan Smidt wat al van die ouderdom van ses Cholesteatoom het. Cholesteatoom is ‘n abnormale versameling van velselle diep binne-in jou oor. Hy moet elke twee maande gaan dat sy oor skoongemaak word anders kan dit infeksie optel. Indien hy infeksie kry kan dit lei tot spraak- en gehoorverlies; iets wat reeds stelselmatig besig is om te gebeur. Dit beinvloed ook sy balans en daar is ‘n kans dat hy sy oor kan verloor.
Lees ook: Ontmoet die nuwe Mnr Krugersdorp

Hy glo dat liefdadigheid by die huis begin en noem dat Christiaan sy niggie se seun is. Hy het besluit om hom te help, want soos Pierre vertel, ‘was daar ‘n tyd wat hy net sy klerekas as besittings gehad het’. In dié tyd het hy by Christiaan se ouma gegaan woon, wie vir hom soos ‘n ma is en noem dat hulle ook maar swaar kry. Hy het toe besluit om te help.
Wanneer Pierre R5 000 ingesamel het, gaan hy vir 24 uur nie praat nie, wanneer hy by R10 000 kom sal hy dan vir nog 24 uur “blind” wees en op R15 000 sal hy sy kop kaal skeer.
Hy het juis op hierdie drie doelwitte besluit omdat hy nie kan indink watse impak so iets op iemand soos Christiaan het nie. En om deur hierdie uitdagings te gaan het hy dan ‘n beter begrip vir waardeur Christiaan en sy familie gaan. Ongelukkig het hy nog geen fondse ingesamel nie en vertel dat hy verstaan dat mense na die pandemie hul sente moet omdraai. Met die laaste uitdaging sal hy sy hare afskeer en Pierre vertel dat hy sy hare ‘baie lief het’.
“Ek is daai tipe persoon; as ‘n haarsalon my hare verkeerd sny, sien hul my nie weer nie. En ek kan myself nie indink met ‘n kaal kop nie. Ek het groot ore so my hare verbloem dit darm ‘n bietjie.”
Hy noem dat hy ook sy ma op 13 September 2022 aan borskanker verloor het.
“My ma het nie doekies omgedraai nie. Sy het gesê wat sy dink. Jy kon reguit sien wie sy is. En sy het lewe gebring.”
Sonder twyfel glo hy dat sy ma hom sou ondersteun.
Maar hoe het Pierre ‘n Mnr Krugersdorp-finalis geword? As deel van die tydskrif waarvoor hy werk het se September-uitgawe het hy ‘n onderhoud met Ndavi Nokerri, die huidige Mej Suid-Afrika gehad. Kort daarna het hy by ‘n modeweek gewerk en vertel dit is na dié twee gebeure dat hy besluit het om vir die kompetisie in te skryf. Hy vertel dat deelnemers aan unieke prosesse en uitdagings moet deelneem. Hy vertel dat hulle selfs met sosiale media kenners en lewensafrigters te doen gehad het.
Pierre is ook ‘n ambassadeur vir Arms of Mercy wat fondse insamel vir kinders wie met kanker en rare siektes lewe. Hy wil ook met ‘n koevert fondsinsameling begin waar ‘n persoon ‘n koevert by hom kan koop teen R100. Hy sal dan die uitdaging wat in die koevert staan, voltooi.
Van die uitdagings sê hy moet byvoorbeeld karaoke uitdagings wees, of hy moet in sy slaapklere in die publiek verskyn.
Hy het al twee ‘uitdagings’ gedoen, die eerste was om ‘n kinderfoto te deel wat hom in die verleentheid gestel het ? ‘n foto van hom en sy teddiebeer op ‘n fiets en vir die ander uitdaging moes iemand sy gesig verf.
Vir meer oor Pierre en hoe jy by sy projekte betrokke kan raak, volg hom gerus op sosiale media by Pierre Louw – Mr Krugersdorp finalist 2022 op Facebook.
