Gemeenskap groet Deon Bresler, ‘n man met ‘n hart van goud
Deon Bresler van die Ministry of Hope-organisasie is onlangs skielik oorlede. 'Hy het geniet om te preek, dit was sy passie' – vrou.
Die gemeenskap van Krugersdorp moes onlangs ‘n gemeenskapsleier met ‘n hart van goud groet.
Deon Bresler van die Ministry of Hope-organisasie is skielik oorlede en sy vrou Erika vertel dat Deon ‘n bloedklont in sy long gekry het.
Erika en Deon het saam die organisasie in 2020 begin. Hulle het onder andere gehelp om die kleuterskool by die Villa Gloria-kamp in Krugersdorp-Wes op te knap. Die paar het ook ‘n nuwe kleuterskool in Krugersdorp-Wes begin en sou hul opedag op 25 Maart hou maar Deon is egter op 24 Maart oorlede.
Lees ook: Geliefde bejaarde oorlede op 91
Hy is in Roodepoort gebore en het ook daar grootgeword. Hy het skool gegaan aan die Hoërskool Florida en was een van vier kinders. Hy het heinings opgerig en toe later oorgegaan na Amerika waar hy sy hart vir die Here gegee het.
Na om en by drie jaar daar het hy teruggekeer na Suid-Afrika en vir Erika in 2018 by ‘n kerkfunksie ontmoet. Die paartjie is op 3 Desember 2021 getroud. Deon het twee dogters uit ‘n vorige huwelik en Erika vertel dat hy bitter lief is vir sy kinders.
Lees ook: Afrikaanse akteur Lieb Bester oorlede na stryd met virus
Na die inperking het Erika en Deon gesien daar is ‘n behoefte vir kospakkies in die gemeenskap. In 2021 het beide hul kapelaan-kursusse voltooi en Erika vertel dat Deon op daardie stadium reg was om sy roeping ten volle uit te leef deur mense nader aan die Here te bring.
“Hy het geniet om te preek, dit was sy passie,” het sy vertel.
Sy het vertel dat in die dae voor sy dood het Deon vir al sy geliefdes boodskappe gestuur.
“Hy het ‘n 40-dae vas gedoen en na dit gesê hy het nie energie nie. Hy was dokter toe en hulle het X-strale geneem en vir hom ysterpille gegee vir die moegheid.”
Erika gaan aanhou met die bedienning en ook die kleuterskool. Sy het vertel dat sy hom vreeslik gaan mis omdat hulle die bediening en die Here se werk saam gedoen het.
“Om iets vir die Here te doen het hom gelukkig gemaak, hy was lief vir mense en om siele te werf.”
Sy het bygevoeg dat hy diep spore in mense se lewens getrap het en baie mense geraak het.
“Ek dink hy het sy doel bereik.”
