Jacobs-egpaar vier 67 jaar van liefde
Die Jacobse het jare gelede op die trein ontmoet en na meer as 65 jaar is hulle nogsteeds op hul gelukkigste saam mekaar.
Dis ‘n liefdesverhaal wat soos ‘n rolprent afspeel. Dit is die enigste manier om die Jacobs-egpaar se 67 jare saam te beskryf.
Jakes (87) en Anita Jacobs (87) het mekaar op die trein op pad werk toe ontmoet. Beide het op die spoorweë gewerk en Anita het die dag op ‘n dubbelsitplek gesit en haar boek lees. Sy het toe die oop sitplek langs haar vir Jakes geoffer.
Hy het bo-oor haar skouer die boek Kleivoete saam met haar begin lees en dit is waar hul liefde vlam gevat het.
Jakes is ‘n Krugersdorp-inwoner in murg en been en het by Die Drie Palms in Viljoenstraat 175 grootgeword. Hy was in Noordskool en later by Hoërskool Jan de Klerk klaargemaak. Anita kom van die Frederikstad-omgewing net buite Potchefstroom. Sy is in Blesbokfontein gebore, by Paardekraal op laerskool en daarna tegniese kollege toe.

Die paartjie is op 1 September 1956 getroud op ‘n plaas in Muldersdrift en vertel dat die onthaal ‘n uithaal geleentheid was.
Na vier jaar by die spoorweë het Jakes by die Krugersdorp-munisipaliteit aangesluit as tesourier en na 33 jaar het hy as rekenmeester in die water en ligte afdeling afgetree.
Anita het self ook later as tikster vir die munisipaliteit begin werk en later by Inspanskool, nou bekend as Pro-Practicum, begin werk. Na 18 jaar se diens by die skool het sy ook afgetree.
Een van die paartjie se gunsteling tydverdrywe was om met hul woonwa deur Suid-Afrika te toer en na hul aftrede het hulle met dit voortgegaan. Deesdae kan hulle nie meer so baie toer nie en hou hulself doenig by die huis.
Hulle het drie kinders, die 64-jarige Antoinette, die 61-jarige Marinda en 59-jarige Louis. Die egpaar het ook vier kleinkinders en ses agterkleinkinders.
Die Jacobs se raad vir ‘n gelukkige huwelik is om na mekaar te luister en met mekaar te praat wanneer iets pla. Selfs na meer as 65 jaar se getroude lewe geniet die twee dit nogsteeds om tyd saam met mekaar deur te bring en dinge saam te doen.
