Nories se omgee-harte laat gemeenskap glimlag
Nories se massa uitreikingsveldtog het die gemeenskap aan die gons.
Hoërskool Noordheuwel het hul eerste kwartaal op ‘n omgee-noot afgesluit waar daar na onder andere pasiënte, bejaardes en selfs diere uitgereik is.
Volgens skoolwoordvoerder Sonet Guy was die hoofdoel om terug te gee aan die gemeenskap.
Sy het verder verduidelik dat elke graad hul eie uitreikingsinitiatief geloots het om ‘n verskil te maak en is daar vir twee weke lank verskeie items ingesamel en verpak.
Die graad aggies, soos die groep graad 8’s bekendstaan, se doel was om vir bejaarde mense bederfpakkies op te maak. Hulle het aftreeoorde besoek en die pakkies uitgedeel. Dan het die graad 9-leerders diereprodukte ingesamel wat aan Friends of Rescued Animals en 9th Day Animal Shelter geskenk is.
Nories kyk ook uit vir minderbevoorregte mede-leerders waar nie-bederfbare kos danksy die graad 10’s versamel is.
Die plaaslike organisasie, The Bethany House Trust, se stigter Gert Jonker het gesê dat ‘n totaal van 107 kinders baie dankbaar is vir die nagklere en speelgoed wat die graad 11-leerders aan beide hulle, asook Huis Nehemia, oorhandig is.
Verder het die matrieks ‘n energiedrankie aan personeel van verskeie onkologie-eenhede en mediese praktyke uitgedeel. Een van die praktyke was Health Worx Valley View en kliniekbestuurder Dawn Spagna sê die uitreikingsveldtog was onvergeetlik, en het mense se dag gemaak.
“Daar het beslis ‘n atmosfeer van waardering geheers. Dankie aan almal,” het Dawn gesê.
Sonet het afgesluit deur te sê, “Mens moet betrokke wees by jou gemeenskap. ‘n Gemeenskap kan nie sonder mekaar klaarkom nie en Hoërskool Noordheuwel probeer om soveel as moontlik uit te reik. Daar is nog kleiner uitrekingsveldtogte wat vir die jaar voorlê en ons sien uit daarna.”