Gemeenskap se pleidooi om van probleemhuis ontslae raak

Die probleemhuis in Wishartstraat veroorsaak kopsere vir inwoners van die buurt aangesien dit 'n hawe vir misdaad, dwelmmisbruik en gesondheidskwessies is.

Die huis in 23 Wishartstraat is steeds ‘n oogseer vir die gemeenskap van Krugersdorp-Noord.

Volgens Rikus Mulder, ‘n inwoner van die straat, staan die huis al vir omtrent 10 jaar leeg, maar sedert verlede maand het al hoe meer haweloses daar onwettig ingetrek.

“Die huis is ‘n oogseer in ons straat en dit veroorsaak dat ons nie eers kan verhuis nie omdat dit ons grondwaarde verlaag. Die huis is ‘n veiligheidsprobleem en brandrisiko omdat daar vuur binne die huis gemaak word. Misdaad het toegeneem in die area en een inwoner is selfs onlangs aangerand, terwyl ‘n huisnommer van iemand se muur af gesteel is,” het Mulder gesê.

• Lees ook: Residents raise concerns over abandoned house in K’dorp North 

Toe die Krugersdorp News ‘n vergadering met die gemeenskap (wat geaffekteer word) gehad het, was daar versoek om hulle identiteite anoniem vir veiligheidsredes te hou.

Een van die gemeenskapslede beweer ook dat daar talle onwettige aktiwiteite plaasvind waar daar op ‘n gereelde basis verdagte reuke in die lug hang. Hul beweer dat dit walms van dwelmmisbruik is. Gedurende die vergadering was daar ook klagtes oor inwoners se gesondheid onder andere dat die huis rotte lok weens die menslike ontlasting en besoedeling in die erf.

Die toestand van 23 Wishartstraat.

“Ons soek nie ‘n plakkerskamp in ons buurt nie. Ons kinders kan nie eers meer buite speel nie as gevolg van die haweloses se kru taalgebruik en bakleiery vir dwelms. Ons het al selfs geweerskote gehoor wat ons laat vrees vir ons lewens,” sê een van die bekommerde gemeenskapslede.

Die News het wéér die munisipaliteit genader vir kommentaar oor die saak en gevra of daar enige verdere verwikkelinge is aangaande die ondersoek in die onwettige besetting van die huis, wat maande gelede geloots is.
Volgens Mogale City se uitvoerende bestuurder van gemeenskapsontwikkelingsdienste, Lovey Modiba, ondersoek die munisipaliteit die saak.

Hulle het teen druktyd nog nie op die News se versoek gereageer nie. Modiba het wel in Februarie oor dié einste huis kommentaar gelewer.

“Ons probeer die eienaar van die eiendom opspoor. Ingevolge munisipale wette, indien ‘n eiendom verwaarloos word en verlate is, moet die munisipaliteit ‘n inspekteur stuur wat ‘n kennisgewing op die eiendom plaas, die huiseienaar kontak en ‘n sperdatum van 10 dae vasstel vir die eiendom om opgeëis te word. Indien die huiseienaar nie binne daardie tyd na vore kom nie, kan die munisipaliteit die huis op veiling plaas,” het Modiba gesê.

Exit mobile version