Local news

Die gemeenskap sê hul sê oor NGV

Inwoners deel hulle opinies oor die NGV.

Die Krugersdorp News het die strate ingevaar om die gemeenskap se opinies oor die nasionale gesondheidsversekering (NGV)-wetsontwerp te hoor.

Sommige voel dat die NGV positiewe verandering kan bring, terwyl meeste dink dit is ‘n baie slegte idee.

“Dit is goed dat die belastingbetaler se geld die minderbevoorregte se gesondheid befonds. Gesondheid is baie belangrik vir almal. Ek is ook bly want dan kan mediese fondse nie mense meer vra op hulle premie nie. My grootste vrees met die wet is korrupsie in ons land, en die onsekerheid wat met die geld gaan gebeur,” het Germie Janse van Rensburg gesê.

Nico van Blerk.

“Ek dink nie die NGV is ‘n slim idee nie, en ek stem nie saam dat die wet onderteken is nie. Dit kan veroorsaak dat privaat hospitale te besig kan raak, waar jy vir jou mediese fonds baie betaal, en dan nog moet wag vir behandeling, omdat dit so besig kan wees,” sê Nico van Blerk.

Werner Marx.

“In Suid-Afrika gaan dit nie werk nie, omdat te veel hande betrokke is met dit. Ek dink nie dat die geld reg bestuur gaan word nie, en het nie ‘n idee hoe dit gaan uitbetaal word nie. Dit gaan ook ‘n reuse effek op mediese fondse hê, en ek is bekommerd oor hoeveel mense in daardie beroep hulle werke kan verloor. As sulke sisteme in eerstewêreldse lande soos Kanada en die VK nie werk nie, hoe gaan dit vir ons werk?” het Werner Marx gevra.

Thea Visser.

“Die NGV is kommerwekkend, en ek weet nie hoe die staat so iets kan bestuur nie. Ek kommer vir die bejaarde generasie omdat mediese fonds alreeds so duur is vir ons, nou hoe kan hulle ons op ‘n moontlike waglys sit op ons ouderdom, veral as dit ‘n noodgeval is?” het Thea Visser gevra.

Phillip Greyling.

“Die regering is besig om die NGV model te implementeer in ‘n model wat nie werk nie. Plaas leer hulle by privaat hospitale en pas dit toe by die staatshospitale. Die staatsamptenare wat die president insluit moet eintelik hulle mediese fondse staak en na staatshospitale toe geen, dan sal mens sien hoe vinnig staatshospitale opgeknap word,” sê Phillip Greyling.

Back to top button