Juané kan weer hoor!
Laerskool Kenmare en Jacaranda FM skenk duisende sodat leerder kan hoor.
Laerskool Kenmare en Jacaranda FM se Good Morning Angels het onlangs vir Juané Mulder met befondsing vir ‘n gehoortoestel gehelp.
Volgens die bekende radiostasie se webtuiste was Juané gebore met ‘n genetiese kondisie wat haar gehoor affekteer, waar sy ‘n gehoortoestel benodig, omdat haar gehoor vergaan. Die webtuiste voeg by dat so ‘n toestel haar vreeslik gaan help om te fokus in dieb klas en in raserige omgewings, maar die toestel kos R90 000.

Volgens radio-omroepper Martin Bester, het hy by die Kennie Fees, wat onlangs plaasgevind het, opgetree waar hy en Kennie-personeel gesels het oor Juané se situasie.
“Ek het met ons span gepraat om uit te vind of ons Juané deur middel van Good Morning Angels kan help en hulle het dit goedgekeur. Met die befondsing kon ons haar help om die regte tegnologie te kry, sodat dit ‘n verskil in haar skoolloopbaan kan maak,” het Martin bygevoeg.
Volgens Kennies projekbestuurder Elsabe Bell, het Kennies reeds R15 000 vir Juané ingesamel, waar Good Morning Angels die uitstaande bedrag van R75 000 aan haar geskenk het.
