Local news

Brandweervrou Belinda wys hoe!

Een van Krugersdorp se dapperste vroue vertel haar storie.

Belinda Muller (47) is een van Krugersdorp se mees inspirerendste en dapperste vroue.

Belinda is ‘n senior nooddiensbeampte by die Wes-Rand-distrik se stasie 38. Haar beroep behels om na brand-, ongeluk- en reddingstonele te gaan waar sy nooddienste toepas. Sy doen ook die administrasie van die stasie.

Sy het in 1998 by die brandweer in Magaliesburg as ‘n vrywilliger begin werk en was in 2001 vas aangestel as ‘n brandweervrou. Sy is ook ‘n enkelma vir haar 19-jarige seun.

“Ek het voorheen in die toerismebedryf gewerk toe ek besluit het dat ek ‘n verskil in mense se lewens kan maak. Ek het my studies voltooi om ‘n nooddienstegnikus te word sodat ek daar kan wees vir mense in nood,” sê Belinda.

Sy vertel verder dat sy nie die enigste vrou is wat daar werk nie, en dat hulle almal ‘n belangrike rol speel om mense te help.

“Ek is maar ‘n doodgewone vrou wat in ‘n mansgedrewe industrie ingestap het, en hard gewerk het om te kom waar ek is. Ek geniet dit baie om mense in nood te help, en is altyd daar as iemand ‘n skouer nodig het in ‘n swaar tyd,” het sy bygevoeg.

Haar tipiese dag is om soggens werk toe te gaan en die skofskedule op te stel, en dan te verseker dat die voertuie gereed is vir die dag. Hulle beheerkamer gee hulle dan oproepe en hulle reageer op hulle soos hulle deurkom. Bedags oefen en werk sy aan haar fiksheid.

Sy vertel ook verder dat wanneer sy nie werk nie, is familietyd baie belangrik vir haar. Sy en haar seun oefen saam boogskiet en op Sondae neem hulle aan kompetisies deel.

“Die werk beïnvloed beslis my ‘vroulikheid’, want dit leer my hoe om taai op te tree en nie emosie te wys nie. Om in ‘n mansgedrewe bedryf te wees, moet ons as vroue twee keer so hard werk om ons doelwitte te bereik. Maar my belangrikste doelwit as ’n vrou is om ’n goeie ma te wees,” sê Belinda.

Haar gunsteling deel van die werk is om na ‘n lang dag huis toe te gaan en al die dank aan God te gee dat sy ‘n verskil in iemand se lewe kon maak. Sy voeg by dat die moeilikste deel van haar werk is wanneer sy die nuus aan ‘n familielid van ‘n slagoffer moet bring dat hulle dit nie gemaak het nie, al het hulle hul bes probeer om hulle te red.

“My bevelvoerder Gerhard Nieuwoudt inspireer my. Vandat ek begin het, het hy my opgelei en geleer, en is altyd daar vir my. My ouma is ook ‘n groot inspriasie vir my, omdat sy my geleer het dat wanneer God aan jou kant is, kan jy enige iets bereik,” sê sy.

Haar raad aan vroue is om hul drome te volg, en dat niemand vir jou kan sê dat jy nie iets kan doen nie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.
Back to top button