Fondsinsameling by Khosa vir jong kankerlyer
Gemeenskap is gevra om 'n fondsinsameling op 24 Augustus te ondersteun vir Chané Coetzee se kankerbehandeling.
Op 24 Augustus gaan die Breath of Hope Lung Foundation ‘n fondsinsameling by Khosa Sportklub aanbied vir Chané Coetzee.
Coetzee (32), ‘n inwoner van Kenmare, is met Lymphoepithelial Carcinoma (‘n vorm van longkanker) gediagnoseer.
Volgens haar is die kanker wat sy het skaars en word dit slegs gevind in 0.92% van mense in die wêreld.
“My kanker het dan ook wat mens noem ‘n ‘genetic mutation’ met die naam ROS1 wat ook baie skaars is. Ek was vir ses rondtes chemo wat nie goed genoeg gewerk het nie, en nou is ek op ‘n ‘targeted treatment’ vir die ROS1 met die naam Xalkori. Die Xalkori is R68 000 per maand en ons kry tans, tot en met Oktober, slegs gedeeltelike befondsing van die organisasie Access to Innovative Care Foundation. Die res moet ons self betaal. Ons sukkel ook baie met die mediese fonds om dekking te probeer kry, en tot dusver is ons nie suksesvol nie,” sê Chané.
“Ek het in Julie ook 10 rondtes bestraling ontvang want my gewas in my long het erg bloeding veroorsaak en dit was lewensgevaarlik, maar gelukkig het die bestraling gehelp met dit. Ek gaan September vir my volgende opvolg om te sien of ons my gewas en stuk van my long kan uitsny, maar tot nou het die dokter gesê dit is te gevaarlik, so ek maak staat op my behandeling,” het sy bygevoeg.
Die fondsinsameling sluit in optredes deur kunstenaars, ‘n mark met stalletjies en vermaak vir die kinders waar al die winste gaan bydra tot Chané se behandeling.
