Brand in Wieg van die Mensdom: Boer in nood ontvang voer
AfriForum het besluit om in te gryp en voer aan 'n boer in Muldersdrift te verskaf nadat 'n groot brand skade in die Wieg van die Mensdom aangerig het.
AfriForum se Krugersdorp-tak het onlangs ingespring om ‘n boer te help met voer wie se plaas groot skade gely het weens die onlangse verwoestende brand in die Wieg van die Mensdom.

Volgens AfriForum se Krugersdorp-tak woordvoerder, Natasha van Blerk, het die brand groot gedeeltes van die boer se weiveld en toerusting vernietig. Sy sê die boer het gesukkel om sy vee te voer wat nie toegang het tot vars weiding nie.
• Lees die oorspronklike artikel hier: KYK: Groot brand en baie skade in Wieg van die Mensdom
“Sy diere se voortbestaan is in gevaar en hy het dringend hulp nodig. Ons het dus dit ons missie gemaak om vars weiding aan die boer te verskaf,” het Van Blerk gesê.
“Ons het drie sleepwaens vol hooibale, wat sowat 2.5 ton weeg, aan die boer verskaf om sy diere te voer,” het Natasha afgesluit.
