Local news

Daar is ‘n uitweg – slagoffer van geslagsgebaseerde geweld

Slagoffer van seksuele mishandeling in 'n beledigende verhouding vertel haar storie, en los 'n boodskap aan vroue in dieselfde posisie.

In die aanloop tot 16 Dae van Aktivisme Teen Geslagsgebaseerde Geweld wat einde November afskop, wil ‘n slagoffer haar storie deel om ander vroue te help wat tans geweld ervaar.

Die slagoffer, wat anoniem wil bly vir haar beskerming, sê dat sy verlede jaar in ‘n beledigende verhouding met ‘n man was, waar hy haar by verskeie geleenthede verkrag en seksueel mishandel het. Sy sê elke keer as dit gebeur het, het sy alles gegee om nee te sê en weg te kom, maar hy was manipulerend en intimiderend, waar sy vanjaar uiteindelik ’n saak by die polisie geopen het.

“Ek het altyd gesê as ek so iets sou oorkom, sal ek dadelik uitpraat, maar dit is glad nie so maklik nie. Ek het gedink ek is sterk. Ek het gedink ek kan dit hanteer,” het sy gesê.

“As ek my oë toemaak, sien ek hom. Ek wil elke dag huil en skree, totdat ek nie meer kan nie. Ek kan nie op dieselfde manier na my liggaam kyk nie. Ek voel vuil, ek voel verwerp en ek voel soos ‘n mislukking. My lewe is nie meer myne nie, ek onttrek my aan my mense. vertel sy moedeloos.”

Sy het gesê die terugflitse laat dit voel asof sy steeds in daardie situasie is. Sy voel of sy nie kan asemhaal nie.

“Hy het my nie net fisies mishandel nie; die dinge wat ek moes ervaar in die tydperk van my lewe, waar hy sy siek wellus op my afgedwing het, spook steeds by my,” brei sy uit.

Sy sê dat sy heeltemal tred verloor het van wie sy was, en wou antwoorde hê. Van die eerste keer dat die verkragtings plaasgevind het, was dit baie sleg op haar psige, en sy wou selfs selfmoord pleeg om van die werklikheid te ontsnap.

Sy het wel ’n boodskap wat sy aan vroue wat in dieselfde situasie is, wil oordra.

“Om hulp te vra is nie ‘n teken van swakheid nie – neem ‘n tree terug en onthou wie jy was voor die geleentheid vir jou gesê het wie om te wees. Jy verdien om gehoor te word, jy verdien om geglo te word, jy verdien ondersteuning. Laat jouself toe om kwesbaar te wees, laat ander in,” sê sy vir ander slagoffers.

“Dit is om elke slagoffer daar buite te herinner – jy is nie alleen nie, jy is nie die probleem nie. Jy het nie gevra om die lelik van die lewe op so ‘n pynlike manier te ervaar nie, jy verdien om die skoonheid te ervaar om die bestaan te ervaar, ver weg van die skaduwees wat jou omring,” het sy volgehou.

“Ek bid dat Jesus jou sal toevou met liefde en genesing. Jy sal oukei wees,” het sy afgesluit.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Krugersdorp News in Google News and Top Stories.

Back to top button